4 dae gelede
Vrou se keel oop
MOORDTONEEL: Die cops by die huis in Speyerstraat in Silversands waar die jong vrou vermoor is.FOTO VERSKAF  ~ 

NOG ’n vrou is wreed vermoor gedurende die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.

Die bebloede lyk van die 22-jarige vrou van Delft is Maandagmiddag in ’n huis in Speyerstraat in Silversands gekry.

Sy het verskeie steekwonde opgedoen en haar keel is oopgesny.

Die vrou het die huis van Pando Jikelo, ’n fotograaf van Independent Newspapers, die naweek opgepas.

Volgens Jikelo was hy die naweek in Durban en het eers Dinsdag die tyding gekry.

Volgens Denzil Cupido, ’n wetstoepasser wat in die straat woon, is die lyk in ’n kamer gekry.

Droë bloed was teen die mure en op die vloer.

Cupido verduidelik: “Ek was Sondagaand op pad werk toe toe sy my roep vir raad.

“Sy het gekla dat haar boyfriend haar die Saterdagaand gewurg het en ook haar selfoon afgevat het.

“Hulle het ’n paartie by die huis gehad.

“Hy het haar foon gegryp en daar was iets op waarvan hy nie gehou het nie.

“Hy het haar toe voor haar vriende aan die keel beetgekry. Dit was duidelik dat sy bang was vir hom.

“Ek het haar aangeraai om ’n saak te gaan maak.

“Ek verneem sy was swanger. Die paartjie was ’n jaar en vyf maande saam.”

Volgens Cupido het die boyfriend, van Kensington, Maandag by mense in die straat gaan kla sy girlfriend antwoord nie haar selfoon nie en wil nie die deur oopmaak nie.

Die veiligheidshek voor die deur was gesluit en dit is toe met ’n hamer oopgekap.

Die deur was oop en hy het alleen ingegaan en in die kamer op haar lyk afgekom.

Geskok

Volgens Cupido was sy ma ook op die toneel en het hom gebel.

Hy het dadelik die polisie gebel.

Volgens Thonia Olivier van die Silversands Ratepayers’ Association is dit ’n stil woonbuurt en is almal geskok oor die moord.

“Die meeste gevalle is waar skollies kabels steel of motors steel.

“Ons probeer die inwoners aanmoedig om betrokke te raak by die voorkoming van misdaad.

“Misdaad gaan handuit ruk, want verskeie gangsters wat onlangs uit die tronk gekom het, woon nou hier.”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die vermoorde vrou se boyfriend is vir onder­vraging gearresteer.

Hy is nog in aanhouding en ’n moordsaak word ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters