10 dae gelede
Vrou probeer seun weglok
toneel: Die voorval het reg voor die skool gebeur.Foto: bohemia hoffmeester  ~ 

’N LEERDER wat byna voor die skool ontvoer is, laat skoolouers van voor af in ’n panicked frenzy.

Dié gr.1-leerder het Dinsdag ’n noue ontkoming gehad toe ’n bedwelmde vrou hom glo voor die Laerskool Mikro in Kuilsrivier wou steel.

Volgens die skoolhoof, Louis Mouton, het die seun binne die skoolterrein vir sy ouma gewag.

Mouton sê die seun is na buite toe hy gedog het hy het sy ouma se kar buitekant gewaar.

“Die vrou het hom buitekant ge­nader en probeer weglei op in Spruitstraat.

“Hoe meer hy probeer keer het, hoe meer het sy hom probeer oortuig.

“Sy was duidelik onder die invloed van een of ander middel, want dit het ek self gesien.

“Die kind het toe sy ouma se kar gesien en daarheen geloop.

“Toe hy inklim, toe klim die vrou ook in.”

waarsku: Louis Mouton het dié brief aan ouers uitgestuur.FOTO verskaf

Volgens Mouton het die kind later aan hulle vertel die vrou het aan hom gesê hy moet saam met haar Checkers toe gaan en dat sy sy ma is.

Mouton sê terwyl die voorval afgespeel het, het armed­ response verby gekom.

Hulle het die vrou toe verwyder.

Die polisie is ook gekontak en die vrou is onmiddellik ge­arresteer, sê Mouton.

Ná die voorval het die seun, wat duidelik baie getraumatiseer was, berading ontvang, het Mouton bygevoeg.

Sy ouers is gekontak en het dadelik na die skool gegaan.

Mouton het ná die voorval sommer ’n omsendbrief uitgereik en aan alle ouers gestuur.

Die brief lui: “Kinders moet asseblief seker maak dat hulle in die omheining bly totdat hulle geleentheid opdaag.

“Dankie aan almal wat waaksaam was om te verhoed dat dit ernstiger gevolge gehad het.”

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê hulle is bewus van die voorval.

Volgens Hammond was dit nie ’n poging tot ontvoering nie, maar waarsku leerders teen stranger danger.

Hammond verduidelik: “ ’n Vrou wat onder die invloed van een of ander dwelm was, het ’n gr.1-leerder genader toe hy na sy ouma se kar toe wou gaan.

“Die vrou het hom gevra vir kos en geld.

“ ’n Ouer het ingespring en die leerder het in sy ouma se kar geklim. Die vrou het toe ook ingeklim.

“ ’n Armed response-voertuig het verbygery en die vrou uit die kar gehaal.”

Hammond sê leerders word daaraan herinner om in die skool te bly totdat hulle hulle ouers of voogde raaksien.

In dié geval het die vrou probeer om die leerder “te steel” terwyl sy verby die skool geloop het, sê sy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters