2 maande gelede
Vrou kry rug vol kookwater
IN DIE mang: Elton Dirks moet nou die nuwe jaar agter tralies ingaan.FOTO verskaf  ~ 

’N VERMEENDE tikkop-man het sy kerksuster-vrou glo kort voor Krismis met kookwater gegooi.

Ronel Dirks van Roodewal in Worcester sê sy kon glad nie haar Kersfees geniet nadat haar man, Elton, haar Sondag verbrand het nie.

Pleks van feesvier saam met haar familie, moes sy Krismis by die hospitaal sit om nuwe verbande te kry.

Ronel vertel aan Son haar man van die afgelope 17 jaar is nou al 10 jaar verslaaf aan tik.

Vandat die tikduiwel hom beetgekry het, sê sy, is dit nag vir haar en moet sy pal vir haar lewe vlug.

Volgens Ronel wou Elton haar al sowat twee weke gelede in hulle slaapkamer vermoor en moes sy by die bure gaan skuil.

Sondag is sy onkant gevang toe hy haar oor geld vir ’n entjie in die kombuis kom skel het, sê Ronel.

Sy vertel: “Ek het vir hom gesê ek het nie geld vir ’n entjie nie.

moedeloos: Ronel Dirks sê sy het uiteindelik besluit om ontslae te raak van haar “abusive man”.Foto: JONATHAN LESTRADE

“Die vorige dag het hy ’n R670 uit my beursie gevat.

“Ek het hom toe gevra waar dié geld dan is en hy kan dit mos gebruik om sy entjie te gaan koop.

“Hy het kwaad geraak en die ketel water wat pas klaar gekook het, gegryp.

“Hy het vir my gesig gemik, maar toe draai ek my rug op hom.”

Ronel sê sy het gevlug en haar kinders, wat buite gespeel het, het hulle pa gekonfronteer.

Volgens Ronel is sy toe na ’n buurvrou oorkant die pad waar sy gevra het hulle moet die polisie kontak.

Sy voeg by: “Die polisie het nooit uitgekom nie. Ek het toe my oudste seun gebel om my polisiestasie toe te neem.

“Toe ons daar kom, het hulle my na die hospitaal verwys.

“By die hospitaal het ek so 12 uur lank gesit. Toe ek weer die polisie bel, het hulle weer nie uitgekom nie.

Speurder

“Die volgende dag het ek ’n polisievên in die pad gewaar en hulle vertel wat met my gebeur het.

“Die polisieman het die stasie gekontak wat toe ’n vên uitgestuur het en my verklaring kom neem het.

“Daarna het die speurder my kom haal om my man te gaan uitken.

“Ons het hom by die shebeen gekry waar hulle hom gearresteer het.”

Ronel sê ál wat sy wil hê, is dat geregtigheid moet geskied, want sy wil nie die gereg in eie hande neem nie.

“Ek is nou klaar met die man. Ek gaan my losmaak, want só kan dit nie aangaan nie,” dreig sy.

Elton het gister in die Worcester-landdroshof verskyn. Die saak is tot 8 Januarie uitgestel vir borgtog-inligting.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters