19 dae gelede
Vrou in taai stryd oor ID
DEURMEKAAR: Anna Taaibosch wys twee van haar drie ID-boekies met die verkeerde ID-nommer op.  ~ Jonathan Lestrade

“DIT voel asof ek nie ’n identiteit het nie.”

Só sê Anna Taaibosch van Kraaifontein wat drie identiteitsboekie het.

Maar nie een van hulle het haar regte geboortedatum in nie.

“Ek sukkel al jare om my identiteit te kry en het al opgegee en op ’n stadium aanvaar dat dit dalk nooit sal regkom nie,” sê sy.

Taaibosch sê sedert sy die eerste keer aansoek gedoen het vir haar ID bly sy dieselfde verkeerde nommer kry.

Rekord

“Die eerste keer toe ek aansoek gedoen het, was ek 18 jaar oud. Die ID-nommer het die geboortedatum van ’n ander vrou s’n daarop.

“Die ander vrou is op 22 November 1963 gebore. Ek is volgens my geboortesertifikaat, asook ’n rekord van my hoërskool op 24 Desember 1962 gebore,” sê sy.

Taaibosch sê sy het probeer om die ID te laat regstel toe sy trou, maar in 1993 het dit net teruggekom steeds met die verkeerde ID-nommer.

“Ek het dit gelos en aangegaan met my lewe,” vertel sy.

Dis eers toe sy by ’n maatskappy haar werk verlaat het en vir UIF wou aansoek doen dat sy besef het sy sal nie UIF kry nie omdat sy ’n ID-nommer met iemand anders deel.

“Ek kan nie eens ’n rekening oopmaak met die nommer nie omdat dit op elke stelsel waar ek aansoek wil doen, wys dat iemand anders dit gebruik,” sê sy.

Taaibosch sê sy het in 2007 weer probeer om haar ID reg te stel.

“Dit het niks gehelp nie en ek het weer dié nommer op my ID. Dit voel vir my asof ek nie meer bestaan nie en nou in iemand anders se skaduwee moet bly.

“Ek het wéér teruggegaan na binnelandse sake en al my dokumente, insluitend my geboortesertifikaat, aan hulle gegee om die regstelling te doen.

“Dit was al in 2017 en ek wag nou nog,” sê sy.

SUKKEL BAIE: Anna Taaibosch voel asof sy nie haar eie identiteit het nie. Foto: Jonathan Lestrade

Taaibosch sê sy is bekommerd oor wat gaan gebeur wanneer sy 60 word.

“Ek sal seker nie aansoek kan doen vir pension nie.”

Samuel Plaatjies, ’n diensbestuurder van binnelandse sake in die Kaap, sê weens die huidige lockdown is die dienste wat binnelandse sake kan lewer ongelukkig tans beperk.

“Die vrou se saak is meer ingewikkeld en sal die insette van die hoofkantoor vereis,” verduidelik Plaatjies.

Regstel

“Daarom sal sy eers moet wag totdat die diens beskikbaar is wat haar saak kan aanvat en die duplikasie van die ID kan regstel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters