5 dae gelede
Vrou draai by die dood om

’N JONG ma kan albei haar oë verloor nadat drie jong mans in haar gemeenskap haar na bewering aangerand het.

In die voorval Saterdagaand in Cloetesville is Elzette de Ruiter met ’n bottel geslaan, gesteek en telkemale geskop en getrap.

Sy sterk tans in die Stellenbosch Provinsiale Hospitaal aan.

Volgens haar ma, Joline Albertus, het die mans – wat aan hulle bekend is – De Ruiter se boyfriend ook die middag aangerand.

Albertus sê aan Son die moeilikheid het begin toe die mans klippe na haar huis gegooi het. Sy’t toe aan haar kinders gesê om liewer in te kom.

Albertus, wat die aand nagskof gaan werk het, vertel dat sy ’n nare oproep by die werk ontvang het.

Sy is ingelig dat De Ruiter deur drie mans aangerand is en as dit nie was vir gemeenskapslede wat ingespring het nie, sou sy dood gewees het.

Volgens Albertus was een van die mans op die punt om haar dogter die doodslag toe te dien toe haar neighbour uitkom en die persoon aan die hand gryp.

Sy vertel: “Nadat ek weg van die huis af is, het Elzette en haar broer besluit om my vriendin te besoek. Dit was nie lank daarna nie, toe kry ek die oproep by die werk.

“Hulle het gesê dat drie mans haar met ’n bottel geslaan het, gesteek het en ook omtrent geskop en trap het. Hulle wou haar eintlik doodmaak, maar toe kom die neighbours uit hul huise.”

Swak

Volgens Albertus was die polisie twee keer by hul huis, maar haar dogter het nog nie ’n saak gemaak nie oor haar toestand te swak is.

Albertus se neighbour Hillary Stephanus het aan Son vertel haar man het ’n harde geluid buite gehoor. Dit was toe die mans wat De Ruiter te lyf gaan.

Stephanus vertel: “My man en skoonseun is na buite. Ons het gekyk wat aangaan en gesien dis Elzette wat daar lê. Die ou wou haar toe ’n tweede keer steek. My skoonseun het sy hand gegryp en gesê: ‘Maar jy kan haar nie so steek nie!’ Dis toe hulle weghardloop het.

“Ons as vroue kan nie toelaat dat dit gebeur nie, dis abuse. Môre doen hulle aan ons wat hulle aan haar gedoen het.”

Magdalene Blankenberg, van die organisasie Cloetesville Women Empowerment, het aan Son gesê sy het Maandag van die voorval te hore gekom.

Volgens Blankenberg wou sy kontak met De Ruiter maak, maar dié wou nie met mense praat nie.

Sy sê: “Ek praat vandag as ’n survivor van domestic violence. Ek voel dat ons vroue empower moet word.

“Die polisie sal drasties moet optree. Die justice sys­tem fail alewig ons mense as dit by gender-based violence kom.

“Ons jong mense word deur drug merchants en bendeleiers gegroom.

“Mans het geen meer respek vir ons vroue nie.”

Son het saam met Johannes Hendricks gepraat, die pa van twee van die seuns wat De Ruiter na bewering aangerand het.

Betrokke

Volgens Hendricks was sy kinders glad nie betrokke by die voorval nie. Hy sê De Ruiter se broer het wel sy kind die Vrydag voor die voorval geklap.

Hy sê die volgende dag het die broer hom langs die pad gekry en wou hy hom steek.

Hendricks vertel: “Ek wou hom toe met ’n hamer slaan wat ek opgetel het. Ek het gemik na hom, maar hom nie raak geslaan nie.

“Toe ek terugkom vanwaar ek was, wou hy weer met my baklei. My seuns het nie Joline se dogter so geslaan nie. Iemand het haar met ’n klip in die gesig gegooi toe sy die kinders geklap het.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters