Verlede maand
LUISTER: Vrou bevrees, cops 'lag net'
PIMPEL EN PERS: Só is die vrou in Oktober aangerand, en dít ondanks ’n beskermingsbevel.  ~ Foto Verskaf

“MOET hy my eers doodmaak voordat julle hom kan toesluit?”

Dis wat ’n 30-jarige vrou by twee lede van die Ravens­mead-polisie wou weet toe hulle Woensdag by haar huis opgedaag het ure nadat sy gebel het vir hulp.

Die ma het in 2012 ’n interdik teen die pa van haar twee kinders gereël.

Sy sê: “Hy was maar altyd lief om sy hande te lig. Ek was keelvol daarvan en het ’n beskermingsbevel gekry.”

Die man het die beskermingsbevel tot Oktober laas jaar gehoorsaam.

Aangerand

Die Bishop Lavis-landdroshof het ’n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik, maar hy is nooit toegesluit nie.

Die vrou sê in Julie het hy haar weer aangerand en met ’n mes rondgejaag.

Sy vertel: “Ek het die polisie gebel. Hulle (ene Hartman en nog een) het uitgekom en ek het hulle die interdik gewys.

“Ek het hulle gewys daar loop hy. Hy was binne hulle bereik.”

Die vrou sê die beamptes het gelag en gesê hulle kan die man nie toesluit nie.

Oor Woensdag vertel sy: “Ek het van die werk af gekom toe hoor ek hy vloek my meisiekind uit. Ek wou hom daaroor uitvra, toe rand hy my aan.”

Sy het die polisie ná 17:00 vir die eerste keer gebel. Ná ses oproepe het hulle omstreeks 04:00 uitgesteek.

“Toe het hy nou al aan ons vensters kom klop en ons kom treiter,” vertel sy.

“Ons is net vroue, kids en my bejaarde pa hier, daarom was die hekke gesluit toe hulle opdaag.”

Die vrou sê een van die cops het by die hek geskel.

“Toe record ek hom.

“Toe die hek oopgaan, het my moed gesak toe ek sien dis dieselfde twee beamptes van laas.”

In die recording, wat in Son se besit is, vra sy hulle hoekom hulle die man nie kan toesluit nie, waarop hulle sê die interdik het niks met hulle te doen nie.

In die video sê een van hulle: “Die hof en die polisie is nie dieselfde nie: Jy moet steeds ’n saak kom maak.”

Adv. Owen Kleinhans sê ’n beskermingsbevel gee die polisie die reg om ’n arrestasie te doen, indien moontlik.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, stel voor die vrou moet by stasiebevelvoerder kla.

Hy sê sy kan ook ’n klag maak by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod).

As die bewerings waar is, sê Van Wyk, sal drasties opgetree word teen die betrokke beamptes.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters