4 dae gelede
Vrou (68) in haar eie huis vermoor
TRAGIES: Die bloues fynkam die toneel vir leidrade nadat die bejaarde vrou dood in haar huis aangetref is.  ~ Leon Knipe

DIE lyk van ’n bejaarde vrou van Elsiesrivier is gisteroggend in haar huis gevind.

Jeanette van der Schultz (68) se lyk is in haar huis op die hoek van Coral- en Gardenstraat gevind.

Daar word vermoed sy is Maandagaand in ’n inbraak in haar eie huis vermoor.

Een van die huis se vensters is na verneem word verwyder. Die misdadigers het vermoedelik daardeur toegang tot die huis verkry.

Van der Schultz se lyk is deur ’n familielid gevind. Sy was in die slaapkamer op die bed, met haar hande en voete vasgebind. Sy is vermoedelik verwurg.

Toename

Steve Ross van Elsies­rivier sê: “Ons doen ’n beroep op inwoners om bedag te wees wat rondom hulle aangaan en enige agterdogtige aktiwiteite aan die polisie te rapporteer.”

Volgens Ross is daar die laaste tyd ’n toename in huisinbrake in die area.

Volgens AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder, is die bejaarde vrou se lyk in die huis gevind.

Swartbooi voeg by die verdagtes het met heelwat gesteelde goedere weggekom.

Die polisie is besig om ’n moordsaak te ondersoek.

Niemand is nog gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters