18 dae gelede
Vrae ry ma van 2 jong slagoffers
Carlos Matjan  ~ Verskaf

’N FAMILIE voel nou nog seer oor die onlangse liederlike ongeluk in De Doorns – en hulle het steeds kwelvrae.

Hulle wil by die polisie weet hoekom die driver, wat die ongeluk oorleef het, steeds vry rondloop.

Jacqueline Jacobs, die ma van Aiden (30) en Carlos Matjan (27) van Touwsrivier, voel die bestuurder van die bakkie moet aanspreeklik gehou word vir haar twee seuns se dood.

Drie van hul vriende, Johnny Ralph van Scotts­dene in Kraaifontein en Ulrich Oliphant en Shafiek Isaacs van Touwsrivier, het ook in die ongeluk gesterf.

Die ongeluk het op 31 Oktober gebeur.

’n Hartseer Jacobs het aan Son gesê sy het eers empatie gehad met die bestuurder, maar toe sy hoor hy loop rond asof niks gebeur het nie, was sy baie ongelukkig.

Sy vertel: “My vriend het vir my ’n boodskap gestuur om te sê die bestuurder loop springlewendig in Laingsburg rond.

“Ek verstaan hy praat niks van die ongeluk nie.

“Ek is ontsteld. Ek het eers gedog dis net ’n ongeluk.”

Sy beweer: “Soos ek dit nou sien, moes die polisie hom opgesluit het op die dag dat die ongeluk gebeur het.

“Die bakkie is nie padwaardig nie en hy het nie eens ’n rybewys nie. Dít alleen is genoeg rede om hom toe te sluit!”

Jacobs, wat in die Kaap woon, sê sy het dit Woensdag haar plig gemaak om De Doorns toe gaan om die ondersoekbeampte in die saak te gaan sien.

Jacobs vertel: “Ek het haar gesê ek gaan nie hier weg nie en ek soek antwoorde.

“Ek het haar gesê die man is in Laingsburg. Ek sê nie sy doen nie haar werk reg nie, maar iets klink nie lekker nie. Toe sê sy sy wag vir hom om na haar toe te kom of sy moet na hom toe gaan.

Stasiekommissaris

“Toe sê ek haar dis ’n bietjie lank, want dis nou al ’n week en ’n paar dae.

“Sy sê toe dis die prosedure wat hulle moet volg.

“Ek vra haar: ‘Is hier nie iemand hoër, soos die stasiekommissaris, met wie ek kan gesels nie?’

“Agterna toe sien ek hom en hy verduidelik dat hulle eers al die evidence bymekaar moet maak en met die ooggetuies moet praat. Hy’t gesê hulle wag vir die verslag van die nadoodse ondersoek.

“Die ondersoekbeampte sê sy wil nie die dossier net so gee nie. Dan kom dit net terug en dan gebeur daar ook weer niks.”

Jacobs sê al wat sy wil hê, is dat geregtigheid geskied.

Sy sê: “Hy was vriende met my kinders. Hy het nog nie eens die decency gehad om kontak te maak nie.”

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, bevestig ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.

“Die ondersoek is aan die gang. Niemand is al ge­arresteer nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters