Verlede maand
Vrae oor lyk in die bosse
bose Bosse: Nicholas Schroeder (67), bekend as oom Klasie, se lyk is gister in bosse gevind. Dit was broekloos en sy gorrel is uitgeruk.Foto’s: ABRIE BURGER  ~ 

DIT was ’n skokkende gesig.

’n Lyk sonder broek en met sy gorrelpyp wat uit sy keel en borskas geruk is.

Dis die dinge wat inwoners van die Jamestown-plakkerskamp in Stellenbosch gister erg ontstel het.

“Ons worry nie oor hoe nie, maar oor wát,” sê hulle.

Dis ná nog ’n raaiselagtige moord in dié gemeenskap.

Nicholas Schroeder (67), bekend as oom Klasie, se lyk is gisteroggend in die bosse naby die sokkerveld gevind.

Mense meen hy is vermoedelik deur pit bull terriers verskeur.

Die lyk is gevind enkele meter van waar twee lyke twee maande terug gevind is.

Volgens mense in die gemeenskap was oom Klasie bekend daarvoor dat hy sy nommer 2 in die bos gaan doen het.

Dis seker ook waarom hy broekloos was, meen hulle.

Hy is gisteroggend nog gesien op pad bos toe om weer sy ding te gaan doen.

Sy lyk is ontdek deur sekuriteitswagte wat die gebied gepatrolleer het.

Volgens ’n jare lange huisvriend was oom Klasie ’n mense-mens en iemand wat altyd almal gegroet het.

Die vrou, wat anoniem wil bly oor sy bang is sy word geteiken, sê: “Hy het altyd my jaart skoon gemaak.”

Omstanders op die toneel het ook gesê dat hy met almal in die gemeenskap gepraat het.

Raaiselagtig dood: Daar word bespiegel dat Nicholas Schroeder (67) deur pit bull terriers bygekom is.

Oom Klasie het alleen gewoon.

Familielede van hom wat daar woon, wou nie met Son praat nie.

Die inwoners is woedend oor dit die derde lyk is wat in dieselfde bos gekry is.

Dit is in minder as drie maande en weer onder raaiselagtige omstandig­hede.

Daar is ook bespiegel of roofdiere die vorige twee slagoffers bygekom het.

Inwoners vind dit kommerwekkend dat al drie slagoffers ouer mans was en dat die lyke omtrent dieselfde tyd van die week gevind is.

Volgens ’n inwoner moes die munisipaliteit die bosse lankal afgekap het, soos die gemeenskap versoek het.

Bevestig

Sy meen hulle sou dan gesien het wat met oom Klasie gebeur het.

Die polisie het die voorval bevestig.

Siyabulela Malo, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Die lyk van ’n 67-jarige man is gister in die bosse naby die huise by die begraafplaas in Jamestown gekry.”

Malo sê ’n geregtelike doodsondersoek is geopen en geen arrestasies is nog gedoen nie.

Die polisie vra dat enige iemand met inligting die Stellenbosch-polisiekantoor dringend bel by 021 809 5061 of Crime Stop by 08600 10111.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters