5 dae gelede
Volkwyn beskryf as ’n ‘wolf’
EMOSIONEEL: Melvin Volkwyn was gister vol trane in die verhoor.  ~ Astrid Februarie

’N WOLF in skaap­klere...

Dis hoe die staatsaanklaer Melvin Volkwyn in die voorvonnisverrigtinge in die Kaapse hooggeregshof beskryf het.

Volkwyn is op 25 Augustus skuldig bevind aan die moord op Orderick Lucas.

Die 22 maande oue babaseuntjie is laas in die oggendure van 25 Maart 2019 in die sorg van Volkwyn lewend gesien.

Sy lykie is op 2 April in ’n drein naby Wittebolstraat in Eersterivier naby sy ouma se huis gevind.

Sy ma, Davidene, sê sedert haar kleine kindjie se dood was sy in geweldige pyn en het sy aan skok gely.

“Wat aan my baba gedoen is, was so onregverdig en onmenslik,” lees haar verklaring wat sy in haar slag­offerimpakverklaring geskryf het ter verswaring van Volkwyn se vonnis.

“Ek wil net drie dinge by Melvin weet: Hoekom en waarom en vir watter rede het jy dit aan my kind gedoen? Hy was ’n onskuldige baba met sy hele lewe voor hom,” sê sy in die verklaring.

Die verklaring is deur die staatsaanklaer aan die hof voorgelees.

Die staatsaanklaer het verder ter verswaring van vonnis gesê Volkwyn was bekend aan Orderick, sy ouers­ en hul vriende.

“Om te sê dat ander familielede ook moet staan vir sy moord, hou geen water nie,” sê die staatsaanklaer in reaksie op wat Volkwyn se regsverteenwoordiger, advokaat Susanna Kuun, vroeër aan die hof gesê het.

Verwaarloos

Kuun het in haar betoog aan die hof gesê daar is ’n gesegde dat dit ’n village vat om ’n kind groot te maak, maar dat in hierdie geval dit ’n gemeenskap gevat het om ’n kind te vermoor.

Sy het aan die hof gesê elke persoon wat geweet het daar word nie mooi na Orderick gekyk nie en hy word verwaarloos, moes ook langs haar kliënt in die verhoor tereg gestaan het.

Kuun het verder aan die hof gesê hoewel die vonnis moontlik as ’n afskrikmiddel sal werk, sal dit nie een vir die huidige situasie wees nie.

Sy het verder aan die hof voorgehou dat haar kliënt ’n eerste oortreder is en dat daar geen aanduiding is dat hy wéér by so ’n misdaad betrokke sou raak nie.

“Hy het berou getoon toe hy gearresteer is en het selfs hier in die hof gehuil.

“Daar is ’n sterk moontlikheid dat hy gerehabiliteer kan word.

“Die hof moet genade toon,” laat hoor Kuun.

Die staatsaanklaer het glad nie saamgestem met die verdediging se betoog nie en het aan die hof gesê dat, nes die wolf, Volkwyn die kleine Orderick gevat het.

“Orderick was in ’n kwesbare toestand en die beskuldigde het voordeel daaruit getrek.

Spook

“’n Kosbare lewe is geneem. Elke keer as sy familie verby die drein stap waar hy gedump is, gaan dit hulle herinner aan sy grusame moord.

“Dit gaan vir die res van hul lewe by hulle spook,” sê die staatsaanklaer.

Volkwyn sal sy finale lot op 28 September aanhoor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters