Verlede maand
‘Voel unreal’
Memories: Carmen van Wyk sê Tazne was baie lief vir Hoppie, die hasie wat sy in die foto vashou. Langs Van Wyk is past. Llewellyn MacMaster van die VGK.  ~ Jonathan Lestrade

MET ’n swaar hart het Tazne van Wyk se ma gister almal bedank vir hulle ondersteuning in dié tragiese tyd.

Carmen van Wyk het gister aan Son gesê dit voel steeds baie onwerklik dat sy Dinsdag haar dogter se lyk in die morgue moes gaan uitken.

Die dood van die agjarige poppie het die hele land geruk.

Daar is twee weke lank na haar gesoek nadat sy spoorloos verdwyn het toe sy vinnig gegaan het na ’n winkel net oorkant haar ouerhuis in Clarestraat, Elsiesrivier.

Van Wyk vertel gister sy was nie eens Dinsdag tydens pres. Cyril Rama­phosa se besoek by haar volle mind nie.

“Ek kon my nie steur aan wat rondom my aangegaan het nie. Dinsdag was ’n baie moeilike dag.

“Die seer was so diep. Ek het blank gevoel. Als is nog so onwerklik.”

Gister het Bheki Cele, die na­sionale minister van polisie, ook die familie besoek.

Hulle het gepraat oor swak dienslewering deur die polisie.

Volgens Van Wyk het die president druk op Cele se kantoor gesit.

“Hy wou kom hoor wat my griewe is.

“Ek het hom vertel hoe die polisie ons nooit op hoogte gehou het nie. Hoe hulle nie hulle fone opgetel het toe ons hulle bel nie.

“Hoe hulle nie die saak met die nodige nood behandel het nie. Ek moes in die media van dinge uitvind.”

Gedra

Van Wyk het vertel sy het die minister van dié dinge gesê in die hoop dat daar nooit weer so iets in die land gebeur nie.

“Dis ’n pyn wat geen ma moet voel nie. Sy was my baby. Ek het haar in my baarmoeder gedra.”

Van Wyk het gesê Cele het haar verseker dat die saak prioriteit geniet. Hy het ook verskoning gevra.

Van Wyk het die gemeenskap, familie en vriende bedank vir al die moeite wat hulle ingesit het om na Tazne te soek.

“Dankie vir die ondersteuning. Dankie dat julle bereid was om ons te help en dankie dat julle probeer het om die ergste te prevent. Dat julle dag en nag julle tyd opgeoffer het om Tazne te soek. Maar ongelukkig het dit gebeur.”

Tazne sal ter ruste gelê word vanuit die kerk waar sy gedoop is.

Van Wyk het verduidelik al is sy in kennis gestel dat die kerk te klein sal wees, is daar nog redes hoekom sy dié kerk gekies het.

“My kind het hier grootgeraak. Sy is daar gedoop.

“Sy was nie ’n aanneem- of optelkind nie; dit was haar tweede huis.”

Almal is welkom by die diens. Van Wyk het bygevoeg daar sal buite die kerk ekstra plek en monitors wees.

  • Tazne word Saterdag 10:00 vanuit die VGK in Elsiesrivier begrawe. Dis in 34ste Straat, langs die council-kamp.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters