5 maande gelede
‘Vlamme verwoes ons als’
Niks: Ziyanda Ntlangani, ’n gemeenskapswerker, kla daar is nie huise vir back­yard dwellers nie.
VERLOOR ALLES: S’busiso Dube wys die stukkie van sy ID wat hy tussen die as opgetel het.
In SAK EN AS: Tsitsi Guvamombe en haar baba. Hulle het alles in die brand verloor.
VERWOES: Niks bly oor van 19 hokke in Kalkfontein nie.
UITGEBRAND: Die ses hokkies wat in Overcome Heights in Lavender Hill afgebrand het.Foto: VERSKAF

DIE hokke van inwoners van Kalkfontein en Overcome Heights in Lavender Hill het Vrydag afgebrand.

Vuurtonge is amper soos ’n onwelkome huisvriend wat kort-kort besoek aflê.

Byna drie jaar gelede het die inwoners ook al hul besittings verloor toe hul hokkies afgebrand het.

Tsitsi Guvamombe (28) het gesê: “Ek moet letterlik nou my lewe ’n tweede keer van vooraf opbou.

Magteloosheid

“In 2015 Augustus het ek ook alles verloor toe dit hier op dieselfde plek gebrand het.

“Ek het Vrydag die magteloosheid weer van vooraf beleef.”

Guvamombe is ’n Zimbabwiër wat die afgelope sewe jaar in Kalkfontein woon. Een deel van haar hok het heeltemal afgebrand.

Sy, haar man, hul vyfjarige seun en nege maande oue baba het die meeste van hul goed verloor.

Petronella Mutongwizo (28), nog ’n Zimbabwiër, het dieselfde lot oorgekom.

“Dié keer is ons hok dieselfde dag weer opgeslaan.

“Die eerste keer moes ons twee dae wag vir hulp.

“Dis aaklig om ál jou goed waarvoor ’n mens so hard werk, te verloor.”

S’busiso Dube (40), nog ’n inwoner, het ook als verloor. Dube het net ’n stukkie van sy uitgebrande ID tussen die puin opgetel.

“Ek was by die werk toe die brand uitgebreek het.

“Nou moet ek van vooraf begin. Gelukkig is ek die eerste keer gespaar.”

Volgens Ziyanda Ntlangani, ’n gemeenskapswerker, het 19 hokkies Vrydag in die vroeë oggendure afgebrand.

Marlene Goeieman (45) het gesê: “Die brand het dié keer in my jaart begin. Gelukkig is my huis nie beskadig nie.

“Die brand het vinnig versprei. Toe ons wakker skrik, het ons net vlamme gesien.

“Ek het net die kinders wakker gemaak en by die huis uitgehardloop.”

Die Stad Kaapstad se rampbestuur het Saterdag 14:00 nuwe plate en ander boumateriaal aan die inwoners voorsien om hokke op te slaan.

  • Gister in die vroeë oggendure het sewe hokkies in die plakkerskamp Overcome Heights in Lavender Hill afgebrand.

Die een hokkie is in Bergstraat verwoes en die ander ses het in Breëstraat afgebrand.

Die sewe gesinne het ook alles verloor.

Bohemia Hoffmeester berig inwoners wat deur die Kalkfontein-brand geraak is, sê tot tien gesinne het saam in een jaart gebly.

Dis egter nog nie duidelik hoe die brand uitgebreek het nie.

Marlene Goeieman, wat 10 hokkies op haar erf gehad het, sê een van haar twee seuns, wat ook agter in die jaart woon, het alarm gemaak oor die brand.

Volgens Goeieman vestig sy buitelanders teen sowat R400 per maand in hokkies wat sy self opgeslaan het.

Goeieman vertel: “Ek is werkloos en het geen ander inkomste nie. Ek het drie kinders wat nog op skool is vir wie ek moet sorg.”

Volgens Goeieman dra hul plaaslike rent-kantoor kennis van die mense wat in haar jaart woon.

Wag

Sy sê hulle gebruik een kragboks en slegs 350 liter water per dag.

Goeieman vertel: “Daar is baie dae wat ons nie water het nie. Wanneer die 350 liter op is, moet ons maar tot die volgende dag wag.”

’n Backyarder wat anoniem wil bly, vaar uit: “Waar moet ons dan woon as die Stad nie vir ons huise wil gee nie?

“Ons is almal getroud en moet maar agter in ons ouers se jaarte woon.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters