28 dae gelede
Vlamme vat lewe, huise
Argument: Gister het mense ’n fight gehad oor die verwronge plate wat oorgebly het.  ~ Melinda Stuurman

“VERLEKKER julle in ons pyn!”

Dié woorde is iemand gister toegesnou tussen die puin van die verwoestende brand wat Maandagmiddag in die Vygieskraal-plakkerskamp uitgebreek het.

’n Driejarige meisie, Fatima Booysen, en ’n onbekende vrou is in die brand dood. Dit het net ná 15:00 in Johnstonweg, Belgravia, uitgebreek.

Dit het 48 brandweermanne gekos om die reuse- brand te blus.

Die brand het sowat 300 hokkies verwoes en 1 200 mense haweloos gelaat.

Die Stad Kaapstad het gister boumateriaal aan inwoners verskaf en die organisasie Gift of the Givers het komberse en kos aan die verslae mense uitgedeel.

Baie inwoners het aan’t stry geraak oor van die verwronge sinkplate.

Volgens een van die vroue, Ameera Colbie (38), wat alles verloor het, het hulle drie weke terug dreigemente gekry dat hulle uitgebrand gaan word.

’n Omgekrapte Colbie sê: “Die inwoners wat in huise bly, verlekker hulle in ons hartseer en pyn. Toe ons hokkies afbrand, het hulle lekker gekry en gesê ons moet sommer saam met die hokkies uitbrand.

“Die verdeeldheid tussen die mense wat in die huise woon en ons wat in die hokkies woon, kom al lankal aan.

“Ek is die ma van ag kinders en het alles verloor.

“Ons weet nie waarheen om te gaan nie. Ons wag al so lank vir huise.

“Elke jaar brand ons hokke af. Dit is die grootste brand die afgelope ses jaar.”

Verjaardag

Volgens Katriena Booysen (33), die ma van die dogtertjie wat doodgebrand het, was sy nie tuis toe die brand uitgebreek het nie.

’n Hartseer Katriena sê: “My dogtertjie sou Donderdag haar vierde verjaardag gevier het.

“Ek was by die daghospitaal vir my been wat gebreek is. Op pad huis toe het ’n vrou my gesê my kind het doodgebrand.

“Alles was klaar tot op die grond afgebrand toe ek by die huis kom.

“Sy was die oggend saam met haar maatjie in die huis voordat ek geloop het.

“Sy’t asma gehad en daar word vermoed sy is deur die rook oorval en kon nie vir die vlamme vlug nie.

“Ek weet nie hoe of waar die brand ontstaan het nie.”

Volgens die mamma gaan sy haar dogter se mooi glimlaggie baie mis.

Sy het Fatima as ’n lieflike meisietjie beskryf wat baie gehoorsaam was.

Die burgemeester, Dan Plato, het ook die toneel besoek en Katriena verseker dat die Stad Kaapstad vir die begrafnis sal betaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters