17 dae gelede
VKO's moet wys hulle is gereed
Sharna Fernandez, Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling.  ~ Leanne Stander

DIE provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, verwelkom die verwikkelinge in die bedryf van vroeë kinderontwikkeling (VKO) en gedeeltelike sorg.

Fernandez het 'n beroep op die nasionale departement gedoen om hulself te verbind tot tydraamwerke vir die heropeningsproses.

In 'n omsendbrief wat met die sektor gedeel is, is VKO-fasiliteite en programme vir gedeeltelike sorg gevra om deel te neem aan die selfassesseringsproses wat die bereidwilligheid vir heropening sal meet.

Die selfassesserings kan aanlyn ingedien word. 

Vir diegene wat nie die aanlynassesseringsvorm kan voltooi nie, kan die kopie van die selfassesseringsvorm by die naaste plaaslike of streekskantoor van die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling ingedien word of aan die maatskaplike diensorganisasies wat gedeeltelike sorgdienste lewer in die omgewing van operasie.

Na die indiening van hierdie vorms, kan beamptes van die departement of maatskaplike diensorganisasies die selfassessering verifieer.

Fernandez sê die selfassessering is 'n reeks vrae en stellings wat gebaseer is op die minimum gesondheids-, veiligheids- en maatskaplike distansieringsmaatreëls op Covid-19 waaraan 'n fasiliteit moet voldoen voordat kinders ontvang kan word, sodra 'n heropeningsdatum aangekondig is.

“Let daarop dat die indiening van die assessering nie beteken dat VKO-sentrums outomaties oopmaak nie.

“Die heropeningsdatum sal deur die minister van nasionale maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, aangekondig word,” het Fernandez gesê.

VKO- en gedeelte sorgsentrums wat hulp nodig het om die vorms in te vul, kan die maatskaplike diensorganisasies in hul gebiede kontak.

Die omsendbrief, selfassesseringsvorms, sowel as die lys van maatskaplike diensorganisasies kan op die departement se webwerf gevind word onder die opskrif State of Readiness: Reopening of Partial Care Services. 


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters