13 dae gelede
Visser weg ná bootongeluk
SOEKTOG: Die NSRI se boot op die toneel waar die reddingsdrama hom Sondagaand afspeel.  ~ Leon Knipe

’N VISSERMAN van Houtbaai word steeds vermis nadat twee bote Sondagaand in die hawe by Houtbaai gebots het.

Stanley “Dolla” Plaatjies, ’n visserman van Hangberg, word nog gesoek en sy familie het gister op die kaai in die hawe saamgedrom in die hoop dat sy lyk gevind sou word.

Die voorval het omstreeks 19:45 tussen The Sentinel en Chapman’s Peak gebeur toe ’n boot vol tuna teen sy boot gebots het.

Volgens Craig Lambinon van die nasionale seereddingsdienste, soek hulle al van Sondagaand na die vermiste visserman.

Lambinon sê: “Dit wil voorkom asof een van die bote sonder ligte in die hawe geanker was. Die dienste van die polisie, metro cops en paramedici is ingeroep.

“Daar was vier plaaslike vissermanne op die een boot en met die botsing het hulle oorboord geval. Twee mans van die ander boot het ook oorboord geval.

Omgewing

“Vyf van die mans is uit die see gered deur bemanningslede van een van die bote wat in die ongeluk betrokke was. Die skipper van die ander boot kon egter nie gevind word nie.

“Drie plaaslike vissers­bote, Fish Keeper, Cap Tuner II en Fish Tails, was in die omgewing toe die ongeluk plaasgevind het en het die mans te hulp gesnel. Twee van die mans is met een van die visserbote na die hawe gebring.

“Die visserboot het na die toneel teruggekeer en die ander drie mans en paramedici van die nasionale seereddingsdienste is ook terug hawe toe gebring.

“Een van die mans is met die ambulans na die hospitaal geneem en is in ’n stabiele toestand.”

Volgens Lambinon het drie noodreddingsbote en een van die plaaslike visserbote na die vermiste visserman gesoek.

Die polisie-duikspan en grensbeheereenheid het gisteroggend met die soektog voortgegaan.

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê dat die soektog na die vermiste man voortgaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters