3 maande gelede
Vis-parcel ‘toe glad nie ideaal’
Patricia Brown kla oor die ou vis  ~ Jonathan Lestrade

“DIE vis het my amper doodgemaak.”

Dít is hoe Patricia Brown (63) van Avonwood in Elsiesrivier kla nadat sy Maandag ’n vis-parcel geëet het wat na bewering nie reg was nie.

Brown vertel sy was lekker honger toe sy en haar dogter besluit het om ’n vis-parcel vir lunch te koop.

“Ons het toe die parcel gekoop by die viswinkel en by die huis gedeel tussen vyf mense.”

Volgens Brown het hulle lekker gesmul aan die parcel toe hulle ontdek dat die vis nie heeltemal reg smaak nie.

“Die vis was nat en koud gewees en die chippies het gelyk asof dit in ou olie gebak is,” sê sy.

“Dit het gevoel iets druk my in my keel en ek sien een van die meisies gee haar vis vir die kat.”

Hulle almal stem toe saam dat iets nie heeltemal reg is nie.

Brown sê hulle is terug na die viswinkel toe om te gaan kla daaroor.

Volgens Brown het die meisie agter die teller gesê sy gaan vir hulle ander vis gee omdat die vis moontlik pap kon wees.

Oopsny

“Toe kom die eienaar en vra vir ons waar die ander vis is.

“Ek het gesê dis opgeëet en dis in ons mae.”

Hy het toe eers die ander vis gesoek voordat hy hul geld of nog vis sou gee.

Brown vertel sy het hom gevra of sy haar maag moet oopsny. Sy beweer ook dat hy onbeskof was met hulle.

“Ek sal nooit weer ’n vis- parcel eet ná die nare er­varing nie,” laat sy hoor.

Sy kon glo nie weer eet ná daai nie en was heeltyd naar.

Cheslyn Davids (28), wat ook ’n stukkie geëet het voordat sy die vis vir die kat gegee het, sê sy was totaal en al siek.

“Ek het onmiddellik dik gevoel en was naar.”

Davids vertel sy het omtrént opgegooi.

Kamaal Sungay (53), die eienaar van Ideal Cafe & Fisheries, bevestig dat Brown Maandag ’n vis-parcel by sy winkel gekoop het.

Volgens hom het sy al die oggend omstreeks 11:00 die parcel gekoop en eers die middag teruggekom daarmee.

Sungay sê hy maak altyd seker dat sy klante happy is, maar kan nie verstaan hoekom sy eers ná ’n hele paar uur die vis teruggebring het en dit nie eens die helfte daarvan nie.

“Dit was net ’n stukkie en ’n klein bietjie chips,” voeg hy by.

“Sy bly ook nie so ver van die winkel af om eers ná ure terug te kom nie.”

Hy wou weet hoe ’n mens amper die hele parcel kan opeet en dan besef die kos is nie reg nie.

Volgens Sungay sou hy haar geld of ander vis teruggegee het as sy nie net daai klein stukkie teruggebring het nie.

“Sy het klaar die vis lekker opgeëet, nou sê sy dit was nie reg nie.”

Sungay voeg by dat hy altyd sy klante akkommodeer indien daar klagtes kom deur hul geld terug of ander vis te gee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters