9 dae gelede
‘Virus nie grootste gevaar’
DIEP GERAAK: Venetia Orgill sê dit is die hartseerste statistiek.  ~ Melinda Stuurman

AKTIVISTE sien rooi nadat die jongste verkragtingsyfers bekend gemaak het; hulle meen dis ’n veel erger pandemie as die dodelike corona-virus.

Tussen Oktober en Desember is 12 208 gevalle van verkragting aangemeld.

Dit wil sê in hierdie tydperk is elke dag minstens 132 vroue in Suid-Afrika verkrag.

Suid-Afrika is ook bekend as die land waar die meeste verkragtings plaasvind.

Eerw. June Dolley-Major, ’n kampvegter teen geslagsgeweld en self ’n slagoffer van verkragting, sê dis tyd dat die regering wakker skrik en dringend iets aan die saak doen.

Sy sê sy’s glad nie beïndruk met hoe die statistieke weergegee is nie.

Dolley-Major sê: “Die syfers is skokkend en die manier waarop dit weergegee is, is net so skokkend!

“Dit is nie net statistieke of getalle hierdie nie, dis persone.

Gesagsposisies

“Meer as 12 000 gevalle is in drie maande aangemeld. Dit is net die gevalle wat aangemeld is.

“Hulle sê net een uit elke nege persone meld die verkragting aan.

“Dit wil sê daar is (minstens) 96 000 wat nié in hierdie drie maande ’n saak van verkragting aangemeld het nie.

“Ons demand dat dié wat in gesagsposisies is, iets sal doen. Hulle is te sag op verkragters.

“Hulle kom uit op borgtog van R500 of R1 000. Is dit wat ons werd is?”

Dolley-Major wil voorts weet hoeveel vroue nog verkrag moet word voordat die land besef dít is die nr. 1-pandemie.

Sy sê wanneer verdagtes net weer vrygelaat word, voel dit dikwels vir die slagoffer asof hulle opnuut verkrag word.

Die aktivis Lucinda Evans, stigter van Philisa Abafazi Bethu SA, sê ook die vraag is hoeveel slagoffers nié sake aangemeld het nie omdat hulle nie dienste ontvang het nie of weggewys is.

Evans verduidelik: “Hulle word aangesê om terug te kom omdat geen FCS-beamptes beskikbaar is nie, dit is na-ure, dit is lockdown of jy moet terugkom wanneer jy nugter is.

“Hierdie statistieke moet jou nie skok nie.

“Wie sal die vroue, kinders en die LGTBQ-persoon beskerm?”

Evans reken dit is tyd om ’n nuwe regering te kry.

’n Kleindogter van Venetia Orgill, ook ’n aktivis van Mitchells Plain, is ook verkrag. Orgill sê aan Son hierdie verkragtingsyfers is die hartseerste statistieke op aarde.

Sy dink die howe moet meer op verkragtingsake fokus en nie toelaat dat dit sloer nie.

Orgill sê: “Die dood is hartseer en corona is op sy ergste, maar verkragting vat die koek. En ek is baie ernstig!

Terugkom

“Die howe veroorsaak havoc in ons kinders en vroue se lewe deurdat die sake jare te sloer.

“Ek praat nou van my eie kleindogter se saak.

“Die hof het gevoel sy is te klein en kan terugkom wanneer dit haar pla.

“Hulle kan nie die ou straf nie oor sy tussen drie en vyf jaar oud was en nie veel kan onthou nie.

“Die dokters se verslag het gewys hoe seer sy gemaak is. Haar suster het byna twee jaar onder eed getuig.”

Orgill sê geregtigheid sal nooit vir dié slagoffers geskied nie, want die regstelsel is ’n gemors.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters