Verlede maand
Vigilantes hard geslaan
VERMOOR: Die vasgebinde lyke van ses mans lê in 2014 op die vlakte.  ~ Peter Abrahams

DIE Wes-Kaapse hooggeregshof het 14 mans van Kraaifontein byna 2 000 jaar tronkstraf opgelê nadat hulle skuldig bevind is op klagte van ontvoering, moord en sameswering om moord te pleeg.

Die beskuldigdes het ses mans op 10 Desember 2014 in Wallacedene ontvoer.

Die ses – Zola Gayiya, Emanuel Barnes, Sandile Ngxabela, Sakhele Ngxabela, Lulama Dunga en Mhlanganisi Mljanjeni – is daarvan beskuldig dat hulle Tsutsutsu Ntsundu beroof en vermoor het.

Ntsundu, van Engcobo in die Oos-Kaap, was ’n veiligheidswag. Hy is vir sy vuurwapen geteiken.

Hy was die homeboy van die beskuldigdes. Hulle het besluit om die wet in eie hande te neem en het die jong mans ontvoer en na ’n veld in Joostenbergvlakte, Kraaifontein, geneem waar hulle gelem, gestenig en dood agtergelaat is. Hul lyke is ontdek met hul hande en voete vasgebind.

Die verdagtes, insluitend hul leier, Bangikhaya Koni, en Monwabisi Siyeko is gearresteer. Hul verhoor het op 5 Februarie 2018 begin.

Vrygespreek

Koni het in November 2017 ’n pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat aangegaan.

Hy is tot ses keer life gevonnis vir die moorde en 30 jaar vir die ontvoering.

Siyeko is vrygespreek van alle klagte teen hom. Die res is op 25 Maart 2021 skuldig bevind. Argumente ter versagting en verswaring is op 17 Junie afgehandel.

Senior staatsadvokaat John Reyneveld het ter verswaring aangevoer die moorde is vooraf beplan en daar is opgetree met ’n gemeenskaplike doel. “Dit kom neer op vigilante-moorde.

“Die slagoffers is eers ure lank gemartel voordat hulle in ’n kar gelaai en na ’n ander toneel gery is waar hulle wreed met klippe bestook en doodgesteek is.

“Hulle was weerloos omdat hul bene en arms vasgebind was. Hulle is toe kaal gelaat soos diere en is eers die volgende oggend ontdek.”

Tsepo Alfred Mathabela, Mncedisi Nditha, Ayanda Gwarubani, Montile Tyokwe, Ayanda Koni, Khaya Booi, Luvo Litha Maqolo, Khanyile Paul, Thandisiwe Manise, Lindani Cetywayo, Sibongile Paul, Lunga Zilwa, Siphiwo Zilwa en Fumanekela Paul is saam tot 1 840 jaar tronkstraf gevonnis.

Mathabela, Gwarubani, Tyokwe, Koni, Booi, Maqolo, Khanyile Paul, Manise, Cetywayo, Sibongile Paul, Lunga Zilwa, Siphiwo Zilwa en Fumanekela Paul is skuldig bevind op ses klagte van moord en ses van ontvoering. Nditha is skuldig bevind aan sameswering om moord te pleeg.

Mathabela is tot 180 jaar gevonnis, maar die hof het beslis sy vonnisse sal gelyklopend wees; dus sal hy effektief 24 jaar mang.

Dapperheid

Mathabela, Gwarubani, Tyokwe, Koni, Booi, Maqolo, Khanyile Paul, Manise, Cetywayo, Sibongile Paul, Lunga Zilwa, Siphiwo Zilwa en Fumanekela Paul is elk tot 150 jaar gevonnis.

Die hof het weer beslis die vonnisse sal gelyklopend wees en hulle sal elkeen dus effektief 20 jaar sit.

Gesamentlik is hulle tot 255 jaar gevonnis.

Reyneveld het die vonnis verwelkom: “Die slagoffers se gesinne is bly. Hulle is dankbaar vir die dapperheid van die vroulike getuies.

“Ongelukkig is Nosicelo Rafu, die hoofgetuie, vroeër vanjaar oorlede voordat sy geregtigheid in dié saak kon sien.

“Die ondersoekspan verdien lof vir harde werk onder moeilike omstandighede.”

Adv. Nicolette Bell, waarnemende direkteur van openbare vervolging, het die vonnis verwelkom en teen dié soort mob justice gewaarsku.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters