5 dae gelede
Vies inwoners piemp­ polisie
Ontevrede: Daphné Orphen (75) van Bellville-Suid sê die polisie kom nooit uit as sy hulle bel nie.  ~ anele mfazwe

INWONERS van Bellville-Suid is nou moeg van hul local polisiestasie se swak diens.

Die moerige inwoners het nou die plaaslike cop shop by die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid, die provinsiale polisieombudsman én die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gepiemp.

’n Gemeenskapsaktivis, Godfrey Luyt, sê hy het die polisiestasie weens swak dienslewering aangemeld.

Volgens hom is die verskoning altyd dat hulle net een voertuig beskikbaar het om uit te gaan.

Luyt sê ook hy is al ingelig dat die Bellville-Suid-polisiestasie min hulpbronne kry as gevolg van die lae misdaadsyfer daar.

“Ons het ook uitdagings nou van bendes wat opkom,” sê hy. “Die probleem van bendegevegte het weer gedaal, maar wie weet wanneer gaan dit weer opduik?

“Ek kan nou al sê dat as dit weer kop uitsteek, gaan die polisie hier nie weet hoe om daarmee te deal nie.”

’n Inwoner, Daphné Orphen (75), sê sy het ’n probleem met haar seun wat aan tik verslaaf is.

Volgens Orphen bly haar seun nie meer by haar nie, maar hy daag soms daar op om geld van haar te eis.

Sy sê: “Die laaste keer toe hy hier was, het hy gedreig om my vensters stukkend te slaan en hy het ’n mes gehad.

“Ek het die polisie gebel. Hulle het nooit gekom nie en dit was nie die eerste keer nie.

“Toe ek later na die polisiestasie gaan, was ek gesê om ’n re­straining order teen hom te kry. Die re­straining order is nog hangend, want die aansoek moet nog in Januarie by die hof aangehoor word.

“Ek weet nie wat moet in die tussentyd gebeur nie, want ek voel nie veilig as my seun hiernatoe kom nie.”

Nog ’n inwoner, Elizabeth September, sê haar kleinseun is laas week van sy selfoon beroof.

“Ek het die polisie gebel,” sê sy. “Hulle het nooit uitgekom nie. Die gemeenskap het toe die rower opgespoor en hom aangerand.

Hangend

“Die rower se ma het nou ’n saak teen die inwoners gemaak. As die polisie uitgekom het, sou die gemeenskap die seun nooit aangerand het nie.”

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, sê as die inwoners klagtes teen die polisie by ander instellings aangemeld het, gaan hulle as die polisie hul volle samewerking gee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters