2 maande gelede
Vierling se ma (22) vol smiles
Dankbaar: Inga Mafunuka sê haar babas het baie blessings saamgebring. Foto: Melinda Stuurman  ~ 

VIER babas later en tog is haar wens om nog ses babas op dieselfde tyd te dra.

Inga Mafunuka (22) van Khayelitsha het verlede week geskiedenis gemaak toe sy die lewe aan vier babas in die Tygerberg-hospitaal geskenk het.

Die first-time mammie beskryf die ervaring as ’n blessing en sê sy sal dit weer doen as sy moet.

Dat die babas in verskillende sakke gelê en elkeen ’n verskillende plasenta gehad het, maak dit ’n fenomenale gebeurtenis.

Volgens die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Nomafrench Mbombo, wat self ’n vroedvrou was, gebeur dit in 1 uit elke 512 000 tot 677 000 geboortes.

“Dit was ’n spontane viervoudige swangerskap.

“Dis ’n uitsonderlike voorkoms in enige gesondheidstelsel en ons is bly om te sê die mamma en babas doen almal baie goed.”

Die minister het Maandag die mammie in die hospitaal besoek.

Die vier babas, twee meisies en twee seuns, was gedurende die besoek nog in ’n broeikas.

Mammie Mafunuka was vol smiles toe talle besoekers haar met geskenke en donasies geseën het. Mafunuka, wat ’n derdejaarstudent is, het gister aan Son vertel sy het haar swangerskap baie geniet.

Sy het bygevoeg dat sy van die vier babas uitgevind het toe sy 16 weke swanger was.

Son wens Mafunuka en haar vier babas – Bunono, Bubele, Bungiwele en Buchule – alles van die beste toe.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters