14 dae gelede
Drie vriende in pad afgemaai
DOOD: Sherwin Sonti, ’n belowende sokkerspeler, is ook een van die victims.Foto’s: FACEBOOK  ~ 

DRIE pelle is dood nadat aanvallers Maandagaand in Kleinvlei in Eersterivier op hulle geskiet het.

Lance Bailey (20), Sherwin Sonti (19) en Jason Jacobs (18) is in ’n drive-by shooting dood. Hulle is op die toneel oorlede.

Twee van hulle vriende is gewond en is in die hospitaal opgeneem. Een van die gewondes het gistermiddag in die hospitaal beswyk, maar sy naam is nog onbekend.

Die voorval het Maandag om en by 20:20 in Marstraat, Somerset Heights, gebeur toe die mans okkapyp gerook het.

’n Wit Quantum-taxi het in die straat af gery en daar is vanuit dié voertuig op hulle losgebrand.

Sonti was ’n belowende sokkerspeler wat na verneem word vir die Blue Downs-sokkerklub uitgedraf het.

Julian Unthank, die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum in Kleinvlei, sê die mans het in ’n straat gestaan toe ’n wit Quantum-taxi verbygekom het.

Probleem

“Drie van die ouens het dit nie gemaak nie en nog twee is gewond.

“Die skietery is ’n groot probleem in Kleinvlei en ons verwag dat die polisie binnekort van die verdagtes gaan arresteer.

“Ons doen ’n beroep op die polisie om die polisielede wat in die cluster geplaas is, terug te bring.

“Dit sal help dat daar meer polisiesigbaarheid in die gebied is.”

Volgens Siyabulela Malo, ’n polisiewoordvoerder, het die cops by hulle aankoms op die moordtoneel vyf mans gevind wat geskiet is, van wie drie op die toneel dood verklaar is.

Malo verduidelik: “Twee mans is na die hospitaal geneem en die omstandig­hede rondom die skietvoorval word nog ondersoek.”

Niemand is nog in verband met die moorde gearresteer nie.

Die voorval kan moontlik bendeverwant wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters