5 dae gelede
Vier gewond toe skote klap
ANGSTIG: Katrina du Plooy (agter), Jaydin se mammie, en sy peetma wag nog op verdere nuus van die dokters.  ~ Peter Abrahams

DRIE jong mans en ’n jong vrou is laas week in ’n drive-by-skietery gewond.

Dié voorval het Donderdagmiddag in Dahliastraat, Scottsville, Kraaifontein, gebeur.

Die familie van Jaydin du Plooy (19), een van die slagoffers, sê dit was vir hulle ’n groot skok om te hoor hy is geskiet.

Volgens Katrina du Plooy, Jaydin se mammie, is sy 32-jarige broer, Brendan, laas jaar in ’n skietery in Scottsville dood.

Jaydin se peetma, wat verkies om anoniem te bly, het aan Son vertel sy was van die werk af op pad huis toe toe sy ’n oproep met die tyding ontvang.

Sy vertel: “Terwyl ek huis toe geloop het, het ek my suster hoor skreeu en skel dat Jaydin raakgeskiet is.

“Ek het tot daar gehardloop.

“Sy vriende het hom toe intussen na hul huis toe gedra.

“Toe ek hom sien, het hy net gesê: ‘Piet-hulle het my deur my bene geskiet.’

Brand

“Ek wou net weet of hy orrait is en hy het gesê ál wat hy voel, is dat sy bene brand.”

Volgens die peetma het die polisie sommer gou gespeel en ál drie mans wat geskiet is, is in die polisievên gelaai en na die Kraaifontein-daghospitaal geneem.

Die jong vrou wat ook in dieselfde voorval geskiet is, is deur haar familie na die hospitaal geneem.

Beplan

Jaydin se mammie het aan Son gesê hy is dieselfde aand weens sy ernstige toestand na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.

“Hy is vier keer geskiet, maar die dokters kan nie twee koeëls op die X-strale optel nie,” sê sy.

Volgens Jaydin se peetma het die dokters gesê hulle beplan om ’n CT scan te doen.

Sy verduidelik: “Op die oomblik kan hy nie sy bene voel nie.

“Twee van die koeëls het dwarsdeur sy bene gegaan, maar die ander twee sit nog vas.

“Die dokters weet net nie waar nie.”

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, bevestig die voorval het Donderdag omstreeks 15:00 in Dahlia­straat voorgekom.

Traut verduidelik: “Luidens die inligting van een van die slagoffers het hy en sy vriende buitekant sy huis gestaan toe ’n silwerkleurige sedan-voertuig met ’n CAA-registrasienommer verby hulle gery en verskeie skote op hulle afgevuur het.

“Die slagoffer is in beide bobene gewond.”

Volgens Traut is die verdagtes onbekend en moet hulle nog gearresteer word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters