Verlede maand
Victim ‘was bang vir ou’
Bridgenay Slingers (18)  ~ Foto Verskaf

GANSBAAI. – ’n Tienermeisie wat die naweek vermoor is, is na bewering al voorheen aangerand.

Die bewering is dat dit die werk van ’n boyfriend is.

Bridgenay Slingers (18), ’n gr. 10-leerder van die Gansbaai Academia, kon glo vir ’n week lank nie skool toe gaan het nie.

Slingers se lyk is Saterdag op ’n rugbyveld in Blompark gevind.

Sy is na bewering gewurg en het veelvuldige bytmerke aan haar liggaam gehad. Haar nek en rug was oortrek met bytmerke.

’n Bron beweer dat Slingers deur die jaloerse berk vermoor is oor sy na bewering sonder hom uit was.

Die bron sê: “Toe sy nie vir hom wou sê waarheen sy was nie, het hy haar toe begin aanrand.

“Hy berou dat hy haar doodgemaak het en huil erg baie.”

Die 15-jarige Charlton Jacobs, ’n vriend na aan Slingers, vertel oor die vorige aanranding: “Ek onthou dat sy vir die hele week moes tuisbly. Sy was bang vir hom, want hy is mos by gangsters betrokke.

“Sy kon hom nie los nie.”

Jacobs sê hy was baie hartseer toe hy hoor van haar dood.

“Ek het nog net die week voor haar dood in haar vasgeloop in die dorp.

“Ek het haar gevra hoe dit met haar gaan en of alles orrait is.”

Hof

’n Polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, bevestig dat die polisie ’n moord ondersoek wat Saterdag gepleeg is.

Rwexana sê: “Die slagoffer se lyk is op ’n rugbyveld in Blompark, Gansbaai, gevind.

“ ’n Verdagte (21) is in verband met die voorval gearresteer.

“Die verdagte het Dinsdag in die hof verskyn en bly in aanhouding.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters