Verlede jaar
Vet skenking vir Khoi-taal
Groot stryders: Die Khoekhoegowab-taalstryder Denver Plaatjies saam met Anthony Hall, stigter van RAEL. Foto: Una Cupido  ~ 

HY VEG al tien jaar teen dwelms – en nou veg hy ook sodat Khoe­khoe­gowab, die eerste taal, sy regmatige plek in die land moet inneem.

Anthony Hall, stigter van Recovering Addicts Empowering Lives (RAEL), het aan Denver Plaatjies, ’n aktivis vir die Khoekhoe­gowab-taal, ’n skenking gedoen vir die aanskaf van ’n voertuig waarmee hy sy werk kan doen.

“Vervoer is een van ons grootste uitdagings in ons taalbewusmakingswerk,” sê Plaatjies oorstelp van blydskap.

Hy voeg by: “Internasionale navorsing onder inheemse gemeenskappe het bevind mense wat hul voorouerlike tale met geweld verloor het, is meer geneig tot geweld, ly meer aan geestesverwante probleme en het meer probleme met alkohol- en dwelmverslawing.

“Ons sien dit vandag in ons Khoisan-gemeenskap.”

Prof. Ghil’ad Zuckermann van die Universiteit van Adelaide in Australië meen selfs beperkte kennis van ’n voorouerlike taal kan ’n groot impak maak.

Khoekhoegowab, ’n Khoisan-taal wat in dele van die Noord-Kaap gepraat word, is nog nie amptelik in Suid-Afrika erken nie.

Dit word wel amptelik erken in Namibië, waar dit tot op universiteitsvlak aangebied word, asook in Zimbabwe.

“Dit kom uit die diepste van my hart om ’n bydrae tot die taal te maak,” sê Hall, wat sy plaas omskep het in ’n rehabilitasiesentrum om dwelmverslaafdes te help.

“Dit was Khoi-mense wat my ingeneem het toe ek aan alkohol verslaaf was en op straat gewoon het. Ek het in Gympiestraat en op die Kaapse Vlakte gewoon.”

Hy is nou al 12 jaar vry van die drankduiwel.

“Ons moet ons jeug hul droom teruggee. Tik en dwelmverslawing is die grootste pandemie; dit is groter as MIV.

“Korrupsie is die rede waarom ons nie die stryd teen dwelmmisbruik kan wen nie. Ons moet politiek uit die oorlog teen dwelms haal. Net die burgerlike ­samelewing kan die oorlog teen dwelms wen.

“Werkloosheid, verveeldheid en armoede dra by tot die hoë mate van dwelmmisbruik. Die jeug moet vaardighede geleer word,” sê Hall.

Hy vra mense om Vrydae ’n oranje lint te dra vir dwelmbewusmaking.

“Ons grootste uitdaging is opvoeding. Baie van die tikgebruikers is MIV-positief omdat dié dwelm die seksdrang verhoog.

“Ons vind ook dat baie jong mans hul liggaam verkoop om hul dwelmgewoonte te onderhou.

“Die ergste wat ek gesien het, was ’n sewejarige tikverslaafde. Ouers rook ook tik voor hul kinders,” vertel Hall van sy ervarings.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters