28 dae gelede
Vet rekening ’n groot skok
IN DUISTER: Mirlene Jaggers wil weet hoe sy Eskom meer as R17 000 kan skuld.  ~ Jonathan Lestrade

IMAGINE drie maande van aaneenlopende beurtkrag.

Dan kry jy nog ’n vet bill van meer as R17 000 vir krag wat jy nie eens gebruik het nie.

Dis presies wat met Mirlene­ Jaggers (46) van Bishop Lavis gebeur het.

Jaggers vertel sy is vir drie maande in die donkerte gelos omdat haar rekening agterstallig was.

Dié mamma vertel sy en haar gesin het verlede jaar weens die lockdown geldelike probleme gehad.

Jaggers was toe R8 000 agterstallig en sy erken dit was verkeerd.

“Ek val in my skuld, maar ek kon nie betaal nie, want ons het skaars geld vir kos gehad.

“Ek het wel probeer om payment arrangements te maak.”

Sonder enige sukses daarmee is Jaggers se krag toe in Januarie afgesit.

Sedertdien het sy dinge met die kragreus probeer uitwerk.

Sy verduidelik: “Ek het na hul kantore gegaan, maar dit was toe as gevolg van die lockdown.

“ Ek het toe die WhatsApp-lyn probeer en ook gebel, maar elke keer sê hulle die agent gaan terugkom.”

Uiteindelik het Eskom na Jaggers terug gekom en gevra sy moet 30% van die agterstallige geld betaal en ’n heraansluitingsfooi van R1 020.

“Ek het die geld betaal, meer as wat hulle gevra het, en my krag is aangesit.”

Ewe skielik is Jaggers met dié vet bill geklap en is sy daarvan ingelig dat dit so is omdat die meter nie reg gelees is nie.

“Ek verstaan nie so lekker nie. As ek nou iemand was wat nooit my rekening betaal het nie, sou ek verstaan, maar voor die lockdown het ek elke maand op tyd betaal.

“Ek sou Eskom eers betaal het voordat ek kos gaan koop het, maar nou is die bill só hoog vir maande wat ek nie eens krag gehad het nie.”

Geskat

Die mammie sê dinge het tydens die drie maande so swaar gegaan dat haar familie koue kos moes eet en haar kind by ’n kers moes studeer, terwyl sy geld ingesamel het om die bill af te betaal.

“Ek wil net by Eskom weet: Hoe is dit moontlik om so ’n groot bill te kry vir iets wat ek nie eens gebruik het nie?”

Eskom bevestig aan Son dat die bedrag wel so hoog is, maar voeg by dat die betrokke rekening voorheen volgens lae berekeninge geskat is.

“ ’n Werklike lesing is in Maart 2021 verkry wat gebruik is om die rekening te herlaai.

“Die klaer is ook nie die geregistreerde Eskom-rekeninghouer nie en kan dus nie ’n betalingsreëling met Eskom aangaan nie.

“Die geregistreerde rekeninghouer kan Eskom kontak om ’n betalingsopsie vir die hoë rekening te bespreek en sal ’n gesertifiseerde ID-afskrif aan Eskom moet verskaf.

“Aangesien die reëling ’n wettige kontrak tussen Eskom en die rekeninghouer is, kan ’n derde party dit nie afteken nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters