13 dae gelede
Vermoorde meisie ‘is opgesaag’
ONWERKLIK: Eva van Rooyen sê dis moeilik om te verwerk wat met hul dogter gebeur het.  ~ Jonathan Lestrade

’N FAMILIE van Simon­dium naby Klapmuts is in rou gedompel nadat die erg ontbinde lyk van hul 16-jarige dogter gevind is in ’n bos op die plaas waar hulle woon.

As dit nie vir die pienk naellak aan haar toonnaels was nie, sou haar mense nie geweet het dis sy nie.

Nadine Philander se lyk is Maandag 19:00 reg oorkant die Simondium Lodge langs die treinspoor in ’n bos onder ’n boom gevind.

Vir haar grootmaakouers, Eva (53) en Patrick van Rooyen (57), is dit onwerklik.

“Ek het vir een van my vriende gesê die polisie moet hom eerste kry voordat ek hom kry. ’n Mens kan nie iets so wreeds aan enige iemand doen nie,” sê Patrick.

Eva en Patrick het Nadine soos hul eie kind grootgemaak nadat haar ma ’n paar jaar gelede gesterf het.

Al het sy vanaf haar 15de jaar nie meer by haar grootmaakouers gebly nie en by haar oupa op dieselfde plaas gewoon het, sê Eva hulle was steeds haar ouers.

“Die laaste keer toe ons haar gesien het, was oor die eerste naweek in Februarie.

“Ek onthou nog ek het die Sondag vir haar ’n bord kos gegee en die Maandag was die laaste dag dat ons haar gesien het.

“Volgens ’n ander vrou wat hier woon, het Nadine en die vrou se susterskind gechat en sy het laat weet dat sy in Robertson is. Ons het toe nie geweet hoe sy daar gekom en wat sy daar gesoek het nie,” sê Eva.

Eva en ander vriende van Nadine het ook met haar gechat om te vra waar sy is, maar sy het nooit op hul boodskappe gereageer nie.

Eva sê hulle weet nie of sy gedwing is om die plaas te verlaat nie.

“Ek het gedog sy is dalk Worcester toe omdat haar antie daar bly, maar toe hoor ons gisteraand sy lê in die bos.

Verlig

“Ons het nie eens geweet dit is sy nie; mense het net kom sê daar lê ’n lyk,” vertel ’n hartseer Eva.

Lorenzo van Niekerk (28), wat in die huis agter die bos woon waar Nadine se oorskot gevind is, het aan Son gesê hy is die een wat op haar lyk afgekom het.

“Ek het uitgekom om myself te verlig; toe ruik ek iets stink verskriklik soos ’n dooie ding.

“Toe staan ek op en sien ’n gedeelte van ’n lyk.

“Ek het geskrik en vir die mense in die huis gaan sê.

“Dit was nie mooi om te sien nie,” sê Van Niekerk.

PYN: Eva en Patrick van Rooyen sê hulle is stukkend en probeer verstaan wat gebeur het. Foto: Jonathan Lestrade

Patrick sê hy het haar eindelik herken aan die nail polish wat sy aan haar tone gehad het.

“Toe ek daar kom, sien ek ’n gedeelte van haar lyk asof sy soos ’n skaap by ’n slaghuis gesaag was. Ek het haar kop en arms aan die agterkant van haar liggaam gekry.

Seer

“Ek kan dit nie vat nie. Sy was my babakind gewees en sy is so wreed van ons weggeneem. Ons het haar grootgemaak soos ons eie kind.

“Dit maak seer. Ek kan dit nie vat hoe sy lyk nie.”

Die ouers sê hulle weet nie wat gebeur het nie, maar wil net hê die een wat haar so wreed vermoor het, moet gekry word.

“Sy was maar net 16 jaar oud. Sy was ’n lieflike kind. Sy het haar foute gehad, maar sy was lieflik,” sê Eva.

Patrick vermoed iemand anders het Nadine se foon gehad en het dan op die boodskappe van haar vriende gereageer nadat sy al dood was.

“Soos ons nou agterkom, lyk dit asof sy daar gedump is, maar ons is nie seker nie,” vertel Eva.

Al het die familie verneem daar moet eers forensiese toetse gedoen word om seker te maak wie dit is, voel hulle hulle ken hul kind.

“Ons weet dit is sy. Die broek wat sy aangehad het ... ons ken daai broek,” sê Eva.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, sê hulle het ’n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Rwexana voeg by ’n nadoodse ondersoek sal die presiese oorsaak van die slagoffer se dood bepaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters