2 maande gelede
Vermiste vrou toe in lykshuis
DIS SO: Christina Davids het DNS-bevestiging gekry dat die lyk wel haar dogter s’n is.  ~ Peter Abrahams

NÁ DRIE maande van soek na haar vermiste dogter wat wreed in ’n boendoehof-voorval aangerand is, moes ’n hartseer mammie hoor haar dogter is gevind ... as ’n Jane Doe in die Soutrivier-lykshuis.

Dit was gister ’n moeilike taak vir Christina Davids van Valhalla Park om die dogter wat sy swaar die lewe ingebring het, by die lykshuis te gaan uitken.

“Al wat ek wil weet, is hoekom het niemand haar gehelp nie?

“Niemand verdien om só dood te gaan nie,” sê ’n platgeslane Davids.

Haar 34-jarige dogter, Bertha­ Repunzelle Noah, is drie maande gelede in ’n boendoehof in Samora Machel liederlik aangerand.

Davids se soektog na haar dogter het egter nie in ’n fairy tale geëindig nie.

Son het haar gister na die Lentegeur-polisiestasie in Mitchells Plain vergesel waar die bedroefde mammie DNS-bevestiging gekry het dat die lyk wat in die Soutrivier-morgue lê, wel dié van Noah is.

Dwelms

“Ek kan nou rus omdat ek nie meer vir haar soek nie, maar nou is daar ’n gat in my hart, want sy is so wreed vermoor en daar is niks antwoorde vir my nie.”

Davids verduidelik dat haar dogter by haar boy­friend in Samora Machel gewoon het en voeg by dat sy ook nie die feit sal wegsteek dat Noah by dwelms betrokke was nie.

“Ek is nie een van daai ma’s wat vir hul kind opcover nie, want ons weet dat ons kinders nie dieselfde kind buite is as wat hulle binne die huis is nie.

“Maar om só dood te gaan?

“Soos ek van mens tot mens gehoor het, het sy glo by iemand se huis ingebreek en alleen die plek leeg gesteel.

“Die inwoners het haar toe gevang en vir die gemeenskap gegee.”

Verduidelik

Davids sê sy kan nie verstaan dat niemand haar dogter in haar uur van nood te hulp gesnel het nie.

“Sy was iemand se kind ... die ma van kinders.

“Ek moet nou aan haar kinders verduidelik dat hul ma nooit weer gaan terugkom nie.”

Son het betroubaar verneem dat Noah so lelik geslaan is dat die cops nie haar liggaam aan haar ma wou wys nie.

Davids is by die lykshuis vir twee ure deur berading om haar op die gru-prentjie voor te berei.

Ná afloop van die verrigtinge het Davids net lof gehad vir Lentegeur se cops wat haar gehelp het om haar kind se lyk op te spoor.

Die polisie het intussen ’n geregtelike doodsondersoek aangevra.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters