7 dae gelede
Vermiste vrou se ma soek psychic
DESPERAAT: Zelda Cecil het haar nou tot ’n siener gewend om Alisha op te spoor.  ~ Peter Abrahams

DIE ma van ’n vrou wat spoorloos by ’n straatpartytjie in ’n township verdwyn het, het nou die hulp van ’n siener ingeroep.

Alisha Oncker (37) van Schaapkraal naby Philippi word sedert Saterdag vermis nadat sy en haar twee vriendinne na die straat-jol in Khayelitsha gegaan het.

Oncker, die ma van ’n 12-jarige meisie, het saam met ’n man in die crowd verdwyn. Sy is blykbaar weggelok.

Volgens haar ma, Zelda Cecil, het haar enigste dogter nooit huis toe gekom nie en die polisie het nog nie met enige leidrade opgekom nie.

Cecil sê sy os al so desperaat dat sy die siener Gerald Burger genader het – al glo sy nie noodwendig in sy spesiale gawes nie.

Volgens haar kyk haar suster gereeld na Burger se televisieprogram op kykNET­ en dié het haar suster aanbeveel om Burger se dienste in te roep.

Cecil vertel: “Ons het toe kontak met hom gemaak en hy’t gesê dat my dogter op ’n baie vreemde manier tussen die crowd weggeraak het.

“Hy kan sien sy is in ’n donker plek en dat sy nie veilig is nie.

“Volgens hom is my kind ontvoer en sy is baie gestres daar waar sy is.

“Hy het gesê hy sal weer na my toe terugkom.”

Volgens Cecil is sy so desperaat, sy sal enige iets glo wat iemand nou vir haar sê.

“Ek glo als, maar ek vertrou op my lewende God. Dis my greatest belief. Elke keer vra ek vir God om tog vir my ’n teken te gee.

Uitvat

“Ek het gedroom my kind sit op die fridge en haar hare is mooi uitgeblow en haar naels is gedoen.

“Ek het vir haar gevra: ‘Vertel vir Mammie wat gebeur het?

“Sy’t gesê as sy my vertel, gaan hulle haar hele familie uitvat en dat ek net alles moet los. Net daar het ek wakker geskrik.”

Volgens Cecil wil sy ’n soektog na haar dogter beplan, maar die polisie het haar daarvan afgeraai.

Sy sê dalk kan haar kind iewers in die bosse in Khayelitsha lê.

Volgens Cecil het hulle laas naweek wel in Khayelitsha gaan loop en na haar lieflingdogter gaan soek.

Sy sê hulle het verskeie mense gevra of hulle haar dogter gesien het, maar ongelukkig het niemand nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters