3 dae gelede
Vermeende bendelede val in 2 hits
MOORDTONEEL: ’n Vermeende bendelid wat bekend gestaan het as Yster, is Maandagmiddag helder oordag in Bellville-Suid doodgeskiet.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

TWEE vermeende gangsters is Maandag in afsonderlike skietvoorvalle afgemaai.

In Bellville-Suid is ’n vermeende gangster wat as Yster bekend gestaan het, helder oordag vol lood gepomp.

Die 27-jarige man, wat eintlik van Eersterivier kom, is in Stilwaney Crescent geskiet. Hy’s op die toneel dood.

Die omstandighede rondom sy moord word nog ondersoek.

David Sias van Bellville-Suid se gemeenskapspolisiëringsforum meen die skietery is ’n bekommernis.

Sias sê: “Ons het ’n vergadering saam met die polisie en wetstoepassers gehad oor die skietery in die gebied.

Gedreig

“Ons probeer nog die gemeenskap betrokke kry by die bekamping van misdaad.

“Baie inwoners in die gemeenskap is bang om met inligting na vore te kom oor hulle vrees vir hulle lewe of deur gangsters gedreig word.”

In nóg ’n skietery in Athlone is Malik Fortune (31), ’n vermeende Hard Living-bendelid, afgemaai.

Die skietvoorval het Maandag 20:22 in Hazendal op die hoek van Downingstraat en 9de Laan gebeur.

Fortune, wat na verneem word die sokkerafrigter Benni McCarthy se stiefbroer is, is in die bors geskiet.

Hy is met ’n private voertuig na die hospitaal geneem. Hy het daar aan sy ernstige wonde beswyk.

Die cops ondersoek twee sake van moord. Niemand is tot dusver gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters