15 dae gelede
'Verkragter' én sy dogter vas
'n Vermeende verkragter en sy dogter is gearresteer vir sy beweerde dade.  ~ Foto: verskaf / ter illustrasie

’N VERMEENDE verkragter van Kuilsrivier, sy dogter en haar man is almal in hegtenis geneem. 

Dit volg ná die dogter en haar man glo vir die polisie gelieg het oor waar haar pa wegkruip. 

Die 60-jarige word sedert Februarie gesoek, nadat dit aan die lig gekom het dat hy sy meisie se 13-jarige pleegkind oor ’n tydperk molesteer en verkrag het.

Hy het, ten tye van die beweerde vieslike dade, saam met die kind en haar pleegma in Kuilsrivier gewoon. 

Voordat hy egter vir die dade toegekap kon word, het hy spore gemaak en na Slangrivier in Heidelberg gevlug. 

Volgens ’n polisiebron het die ouballie vir twee maande in die klein dorpie weggekruip.

As deel van hul ondersoek het die polisie na bewering sy dogters uitgevra oor waar hul pa kan wees, maar hulle het dikgehou hulle weet nie waar hy is nie. 

Son verneem die einste dogter het toe haar pa gewaarsku dat die polisie op sy spoor is, waarna hy uit Slangrivier beweeg het. 

Hy is Sondagaand in hegtenis geneem ná sy ander dogter, wat in Belhar woon, hom aan die polisie oorhandig het. 

Die man het Dinsdag in die Blue Downs-landdroshof op aanklag van verkragting van 'n minderjarige verskyn.

Die dogter en haar man verskyn Woensdag in die landdroshof op aanklagte van dwarsboming van die gereg. 

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, bevestig dat die man in die hof verskyn het en ook dat die dogter en haar man Woensdag in die hof sal verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters