18 dae gelede
Vergoeding lyk na pay slip-up

ELKE bietjie maak ’n verskil.

Só sê Gustav Smith, een van 18 Expanded Public Works Programme-werkers wat baie ontevrede is nadat hulle na bewering geshort-pay is.

“Ons werk vyf dae per week en dit is nie maklike werk nie. Ons sit al die moeite in om ons gemeenskap skoon te hou en dan word ons geshort-pay. Dis mos nie mooi nie,” kla hy.

Smith is die supervisor van ’n groep wat in die Happy Valley-gebied die strate vee, vullis optel en dumping sites monitor.

Die groep is op 1 September aangestel nadat hulle kontrakte geteken het.

“Soos ons verstaan, word die werkers R120 per dag betaal en supervisors R200 per dag. Ons werk vyf dae per week en maak sedert September so,” sê Smith.

Smith sê hy het rekord gehou van almal wat werk en het ’n detailed time sheet beskikbaar.

“Ons het geen probleme met pay gehad nie totdat ons op 11 Oktober ons pay slips aangevra het. Toe ons die pay slips kry, het sommige van ons twee pay slips vir dieselfde maand gekry, maar die twee verskil van mekaar. Dít verstaan ons nie.

“Ons het toe gevra vir copies van ons kontrakte, maar ons het dit nog nie gekry nie.

“Ons het nie kans gekry om dit te lees nie.

“Ons admit ons het geteken omdat ons eager was vir die werk, maar ons wil graag elk ’n copy daarvan hê,” sê Smith.

Uur

Smith voeg by hulle kan nie eens sê of hulle vir vier maande of ses maande geteken het nie.

Intussen is almal na bewering verlede maand tussen R50 en R90 geshort-pay.

“Ons het toe gevra waarom ons pay kort is, maar ons wag nou nog op dié uur vir ’n verduideliking. Ons is verlede week ’n week short gepay.

“Toe ons dit query, is daar sommer ’n nuwe inspector aangestel, maar niemand kom rêrig uit om vir ons te verduidelik nie.”

Smith dink dit is belaglik dat niemand vir hulle antwoorde het nie.

“Ons payslips maak ons deurmekaar en ons weet nie of daar op die payslips ’n fout gemaak is nie,” voeg hy by.

Mario Silumko Galant sê hy sit met ’n payslip wat sê hy kry R1 200 vir ’n week en ’n ander een wat sê hy kry R1 200 vir ’n fortnight.

“Dít is wat ons nie kan verstaan nie. Wat is die eintlike bedrag wat ons betaal gaan word?” sê hy.

Smith sê dit is vir hulle klaar min geld om mee te survive.

“Ek het na die policy gekyk en dit sê ook iets anders. Daar sê dit die minimum pay is R150 per dag.

“So, my vraag is: Uphold hulle dan nie hul eie policy nie?” wil hy weet.

Smith voeg by sy team werk baie hard, maar as gevolg van hierdie dis­crepancy in die pay slips het die team spirit gedaal.

Smith het Son gister gekontak en die koerant ingelig dat hulle toe wel die week se short-pay ontvang het.

Stad verduidelik loonsyfers

DIE Stad Kaapstad het met die bogenoemde Ex­panded Public Works Programme-werkers (EPWP) kontrakte onderteken wat ooreenstem met die bepalings en voorwaardes van hul EPWP-kontrakte en dit sluit die tydperk van diens en die betaling in.

Só sê Luthando Tyhalibongo, die Stad Kaapstad se woordvoerder.

Tyhalibongo sê die projek duur van 1 September 2020 tot 26 Februarie 2021, soos uiteengesit in hul kontrakte.

“Die EPWP se minimum wage is R97 per dag en die Stad se minimum tarief is R120. Hierdie tarief is ingesluit in die kontrakte wat die EPWP-werkers onderteken het,” sê hy.

Tyhalibongo verduidelik die EPWP-werkers word elke twee weke betaal.

“Die Solid Waste EPWP-eenheid doen egter al die werk self en stel dus nie ’n gemeenskapskakelbeampte vir direkte diens aan nie.

Einde

“Die gesondheids-en-veiligheidsverteenwoordiger by die depot aan wie die EPWP-personeel rapporteer, tree op as die veiligheidsbeampte vir die projek,” sê Tyhalibongo.

Hy bevestig die werkers se kontrakte kom op 26 Februarie tot ’n einde.

“Die Stad Kaapstad sal probeer om die EPWP-werknemers in sy diensleweringsprogram te akkommodeer, maar die Stad kan nie die verlenging van enige kontrakte van die EPWP-werknemers waarborg nie.

“Dít hang af van die behoefte aan en die waarde van die blootstelling van die EPWP-deelnemers wat betrokke is.”

  • EPWP-personeel word daaraan herinner dat indien hulle enige navrae het oor hul diens, kan hulle gerus ’n e-pos stuur na Epwp.Help@capetown.­gov.za.

Werkers wat hulp benodig, kan ook 021 400 9548 skakel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters