4 maande gelede
Verdagte se oog in sel uitgeskiet
Gerald Harris (24) is sy regteroog kwyt nadat die polisie op hom geskiet het.  ~ Foto verskaf

’N JONG man se een oog is daarmee heen nadat ’n polisievrou hom na bewering drie keer in die Atlantis-polisieselle geskiet het.

Gerald Harris (24) van Malmesbury lê nou onder polisiebewaking in die Groote Schuur-hospitaal en het al drie operasies ondergaan, vertel Geraldine, sy sussie.

Sy sê haar broer onthou net snippets van die gebeure op 30 Junie.

“Hy sê hy het daardie Saterdag ’n club in Atlantis besoek. Hy het toe ’n fight gehad met ’n man by die club.”

Later het dit aan die lig gekom dat die man eintlik ’n polisieman is. Die polisieman bel toe sy kollegas, wat hom kom help het om Gerald­ aan te rand, beweer Geraldine.

“My broer sê toe hy weer by sy sinne kom, was hy in die selle.

“Hy weet nie wat in die selle gebeur het nie, maar later het hy in die hospitaal wakker geword.”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het navrae oor die voorval verwys na die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod).

Moses Dlamini, Opod se woordvoerder, sê die betrokke polisievrou het gister in die hof verskyn.

“Die saak is nog nie by ons aangemeld nie.”

Hy sê uit voorlopige verslae blyk dit dat die polisievrou in die Atlantis-polisieselle gewerk het.

Die verdagte het glo gevra om die toilet te besoek.

“Sy het hom toegelaat om die toilet te besoek en was besig om op haar selfoon te gesels toe die verdagte glo die ligte afgeskakel en die beampte oorrompel het.”

Kringtelevisie

Ander beamptes en mense­ in aanhouding kon Gerald glo nie van die polisievrou af kry nie.

“Die beampte het Gerald toe van haar af geskiet.”

Dlamini sê daar is kringtelevisie in die selle.

“Ons wag op die beeld­materiaal en die dossier.”

Geraldine sê haar broer het nou reeds drie operasies ondergaan.

“Hy is wakker, maar hy kan steeds niks onthou nie.

“Benewens die skietery is hy ook erg aangerand. My broer kon dood gewees het.”

Sy sê hulle het probeer om namens haar broer ’n saak aan te meld, maar kon nie by die Atlantis-polisie geholpe raak nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters