Verlede maand
Verdagte in mang gelem
Calvin 'Kaboliek' Goliath.  ~ Facebook

MANALLEEN moet Donald Conrad nou vir die moord op die gewilde pub-eienaar Calvin “Kaboliek” Goliath tereg staan.

Dít kom nadat Dane Brandt, sy medebeskuldigde, Dinsdagaand in die mang doodgesteek is.

Brandt, die tweede verdagte in die saak, het homself aan die polisie oorgegee nadat Conrad omtrent ’n week ná die moord op 19 Mei 2016 bos gelos het.

Goliath is voor sy drankwinkel in West­ridge, Mitchells Plain, doodgeskiet.

Brandt het ’n slegte naam vir homself gemaak.

Hy is as ’n liegbek in die hof beskryf. Dít volg nadat hy glo sewe keer verkeerde name gegee het by vorige arrestasies.

Tevore het Brandt se medebeskuldigde, Conrad, na bewering homself in die tronk probeer hang.

Die departement van korrektiewe dienste het die voorval waarin Brandt doodgesteek is, bevestig.

Mosele Sehloho, woordvoerder van die departement, verduidelik dat Brandt in ’n fight was met twee ander bandiete oor smokkelary en geld.

“Die geveg het in die dood van Dane Brandt geëindig.

“Brandt is omstreeks 17:50 dood verklaar.”

Sehloho het ook bevestig dat die een wat Brandt gesteek het, bos gelos het en die wapen oorhandig het.

“Die ver­dagte is tans in isolasie.

“Die senior bestuurders is uitgestuur om ’n ondersoek te doen.

“Die situasie is tans gestabiliseer.”

William Goliath, die moordslagoffer se seun, het met Son gepraat en gesê: “Ek weet nie hoe om hieroor te voel nie, want ek sal dít niemand toewens nie, maar ons God slaap nie ...”

Die hofsaak sal weer in die middel van Mei in die Mitchells Plain Streekshof voorkom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters