12 dae gelede
Vele staak nie om dowe neute
VREEDSAAM: Stakende werkers bid eers voor hulle met hulle betoging buite die fabriek in Montagu begin.FOTO’S VERSKAF  ~ 

’N GESKENKPAKKIE gevul met droëvrugte en neute van Montagu kos meer as die weeklikse loon vir party van sy fabriekswerkers.

’n Groep van sowat 107 werkers staak sedert Maandag by Montagu Dried Fruit and Nuts se verpakkingsaanleg in Montagu.

Hulle kla dat hulle al jare tussen R700 en R800 per week betaal word, hoewel die lewenskoste toeneem.

Son het verskeie bloemiste genader wat geskenkpakkies van droë vrugte en neute maak en aflewer oor die koste van so ’n rangskikking.

Volgens hulle kan ’n bouquet van droë vrugte en neute tussen R200 en R800 beloop, afhangende van die grootte daarvan.

Vrees

Een van die werkers sê hy werk al vyf jaar vir die maatskappy. “Ons is siek en sat van die min geld. Ons kan nie eens in ons daaglikse behoeftes voorsien nie.”

Die man wat uit vrees vir viktimisering anoniem wil bly, sê hulle wil ’n verhoging van minstens 25% hê.

“As ons minstens R1 000 per week kan kry ...”

Nog ’n werker sê hy het gehoop om sy seun na ’n goeie hoërskool in Montagu toe te stuur.

“Maar met die pay was dit onmoontlik. Nou gaan hy by ’n sekondêre skool in Ashton skool.”

Die man sê hulle wou nie oorgaan na ’n staking nie.

“Maar die weegskaal is nie reg nie. Ek doen ’n klomp mense se werk en het ’n groot verantwoordelikheid by die werk. Dit is moeilik om kop bo water te hou met sulke salarisse.”

Lourens van Rensburg, die uitvoerende hoof van die maatskappy, sê die staking kom ná lang onderhandelings met die werknemers.

“Die lede is van die vakbond Solidariteit. Hulle het op Vrydag 5 Julie ’n stakingskennisgewing ingedien.”

Van Rensburg sê die maatskappy het steeds nie ’n ooreenkoms met die vakbond bereik nie.

“Montagu se werknemers geniet elke jaar verhogings bo die heersende inflasiekoers en ons het nog altyd bo die minimum loon betaal.

“Verlede jaar het werknemers ook toegetree tot ’n pensioenfonds waarvan die maatskappy 100% van die bydrae maak.”

Montagu Dried Fruit and Nuts is steeds in onderhandelings met die vakbond gewikkel oor die aanpassings.

Gister teen druktyd was die staking steeds aan die gang.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters