13 dae gelede
Grafskending, vandalisme kwel owerhede
BEGRAFPLAAS
Grafskending, onwettige besetting en beskadiging van infrastruktuur is 'n groot kopseer.  ~ Foto ter illustrasie: Jonathan Lestrade

KAAPSE owerhede is bekommerd oor die toename in vandalisme en misdaad die afgelope paar maande by 'n aantal munisipale begrafplase.

Onwettige besetting, diefstal, skending van grafstene en beskadiging van infrastruktuur is van die grootste probleme. Familie wat geliefdes se grafte besoek, loop ook die gevaar om beroof te word.

Minky Fatshe sê sy het 'n dubbel-erf by die Gugulethu-begraafplaas gekoop vir 'n laaste rusplek vir haar ouers.

Sy het tralies omgesit om die graf te beveilig, maar verlede maand toe sy die graf besoek, was die helfte daarvan reeds weg. Sondag is die res ook gesteel.

"Ek voel baie sleg oor wat in ons begrafplase aangaan. Dit is nie net myne nie," sê Fatshe.

Die Gugulethu-ontwikkelingsforum sê dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om toe te sien dat begraafplase onderhou word.

Vincent Domingo van dié ontwikkelingsforum sê begrafplase het nie genoegsame sekuriteit nie.

"Dis hoekom grafstene gevandaliseer word. Sommige grafstene word ook gesteel. Daar is selfs jong mense wat daar sokker speel. Ons verstaan hoekom hulle daar speel. Dit is omdat daar geen ontspanningsplekke vir hulle is waar sokker gespeel kan word nie," sê Domingo.

Die Stad Kaapstad sê hy ondersoek die gebruik van alternatiewe hibrid-omheinings om kwesbare fasiliteite teen misdadigheid en vandalisme te beskerm.

Die Stad versoek ook die gemeenskap om saam te werk om begraafplase te beskerm.

Zahid Badroodien, mayco-lid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê: "Ons vind meer menslike ontlasting in ons fasiliteite, ablusiegeriewe bakstene wat gesteel word, sekuriteitswagte word met klippe bestook en begrafnisondernemers is ook nie veilig in ons fasiliteite nie.

"Sommige van hulle word met vuurwapens beroof en hul toerusting word gesteel." - SABC News

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters