2 jaar gelede
Valbyl kom op Henri af
Tjoekie toe: Henri van Breda word gister geboei en na die selle weggelei. Foto’s: Peter Abrahams  ~ 

HENRI van Breda hét sy ouers en sy broer doodgekap.

Regter Siraj Desai het Henri (23) gister skuldig bevind aan die moord op sy ma, Theresa, pa, Martin, en broer, Rudi, en aan poging tot moord vir die aanval op sy suster, Marli.

Desai sê in sy uitspraak daar is nie genoeg bewyse dat ’n vreemdeling of vreemdelinge die gesin op 27 Januarie 2015 aangeval het nie. Hy sê die De Zalze-landgoed by Stellenbosch het die beste sekerheid en veiligheidsmaatreëls.

“Niks vreemds is daardie aand daar opgemerk nie en niemand is naby die perseel gesien nie.”

Hy het ook gesê dit is eienaardig dat wildvreemde mense ’n gesin met ’n byl sou wou uitwis en Henri net met ’n mes bykom. Desai sê Henri se wonde was so oppervlakkig, sy vel is nie eens gebreek nie.

Henri het getuig die gesin se hond was kwansuis te siek om te blaf toe die aanvallers toegeslaan het.

“Hy het ook nie om hulp geroep nie en geen van die noodnommers gebel wat teen die yskas geplak was nie, al het hy drie sigarette naby die yskas gerook.”

Henri se gevoelloosheid deur die verhoor en gedurende sy getuienis het ook teen hom getel.

“Hy was vaag en het sy antwoorde aangepas soos hy aangegaan het. Hierdeur het hy homself telkens weerspreek.”

Desai sê Henri het ook genoeg tyd gehad om met die toneel te peuter.

Omstreeks 04:20 het Henri ’n Google search oor ambulansdienste gedoen, maar die nooddienste eers ná 07:00 gebel. Sy storie was hy was minstens twee ure bewusteloos. Desai sê Henri kon in dié tyd met die toneel gepeuter het.

“Hy wou die polisie mislei met sy weergawe dat iemand anders by die moorde betrokke was.” Desai het Henri dus ook skuldig bevind aan regsverydeling.

Henri se regspan het ná die uitspraak gou probeer keer dat hy in hegtenis geneem word.

Volgens adv. Pieter Botha is Henri op chroniese medikasie en hy het geen rede om nou die land te verlaat nie.

Die staatsaanklaer, Susan Galloway, het kapsie gemaak en gesê alles het nou verander: “Hy is nou ’n veroordeelde misdadiger.

“Die hof moet die belang van die gemeenskap in ag neem. Die hof moet versigtig wees oor die boodskap wat hy aan die publiek uitstuur.”

Henri is in die hof geboei en het vir sy meisie, Daniellé Janse van Rensburg, ’n soentjie geblaas. Daniellé was emosioneel en het ná die hofverrigtinge uit die hof gehardloop.

Desai het toe beslis dat Henri in die Pollsmoor- gevangenis se hospitaal-afdeling aangehou kan word as hy ’n mediese sertifikaat van sy chroniese siekte kan wys.

Buite die hof het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, die uitspraak verwelkom. Hy het ook die polisie en die staat geloof vir hul puik werk ten opsigte van die suksesvolle vervolging. Henri is weer op 5 Junie in die hof.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters