Verlede maand
UWK-student in oogwink weg
HERINNERINGE: Pa Franklin Opperman hou ’n foto van sy liewe seun wat nog op skool geneem is.  ~ Peter Abrahams

IN ’N oogwink het hul seun se blink toekoms saam met hom gesterf toe hy in ’n skietvoorval dood is.

Dís hoe Claude Opperman (22) se ouers, Claudene en Franklin, oor hul seun se dood voel.

Dié jong man was ’n toegewyde BA-student aan die Universiteit van Wes-Kaapland en was oorgehaal om ’n sukses­ van sy loopbaan te maak.

Claudene het aan Son gesê haar seun het selfs laatnag voor sy boeke gesit. Maar hy het ook sy lewe gebalanseerd gehou deur soms ook tyd saam met sy vriende deur te bring.

Vroeg Sondagoggend was dit sy laaste kuier met sy vriende.

Daar was ’n skietery naby aan sy ouerhuis in Eikendal, Kraaifontein, en Claude is noodlottig gewond.

Kuier

Tot nou toe weet Claudene nie wat gebeur het nie. En die bedroefde ma sê sy wíl ook nie weet nie.

Sy vertel: “Vroeër die Saterdagaand het hy, sy broers, sy neef en ’n paar vriende hier by die huis gesit en kuier.

“Nadat hulle almal weg is het sy ander vriende gekom en hy het gesê hy gaan saam na Jessie se huis toe. Hy’t gesê hy sal weer voor middernag terug wees.

“Ek het aan die slaap geraak en die skote het my wakker gemaak.

“Ek het dadelik begin bid en die Here gevra om my kind te bewaar.

“Ek het deur toe geloop om te hoor of ek dalk enige stemme hoor, maar dit was stil.”

Claudene sê dit was skaars ’n paar minute later toe een van haar seuns by die huis aangehardloop kom.

Sy sê al woorde wat hy kon uitkry was dat Claude doodgeskiet is.

“Hy’t gesê: ‘Hy’s dood, Mammie. Hulle het hom doodgeskiet!’

“Hy het die heeltyd gehuil en gevra hoekom dan sy broer? Dit was baie erg.”

Claudene sê sy was so geskok dat sy nie na haar seun op die skiettoneel wou gaan kyk nie.

Sy sê hoewel sy haar seun wou onthou soos sy hom geken het, het sy toe tog maar by haar seun gaan waak kort voordat sy lyk verwyder is.

’n Hartseer Claudene sê: “Ek wou nie my kind só sien nie. Ek wil nie weet of hoor wat met hom gebeur het nie.

“Ek het geen slegte gevoelens teenoor enige iemand nie en wil net my kind bêre soos ek hom geken het.”

Claudene sê haar seun was ’n man van min woorde. Maar twee weke gelede, toe kom hy na haar en sê vir haar dat hy haar baie, baie lief het.

Sy sê haar boodskap aan die jeug is dat hulle na hul ouers moet luister en hul vriende reg moet kies.

Op die AfrikJoernal Facebook-blad van UWK is daar ’n pragtige boodskap vir Claude geskryf.

Die inskrywing lees: “Vandag onthou die departement Afrikaans en Nederlands een van ons derdejaarstudente, Claude Opperman.

“Sy gesin, geliefdes en vriende is in ons gedagtes en gebede. Hy is een van ons.

“Mag jou siel in vrede rus, Claude.”

’n Woordvoerder van die polisie, kapt. FC van Wyk, bevestig die Kraaifontein-polisie ondersoek ’n moord.

Leidrade

Volgens Van Wyk is daar nog niemand gearresteer nie en die saak moet nog ondersoek word.

Hy het gesê: “Die speurders is besig om alle leidrade op te volg om die verdagtes te arresteer en die saak op te los.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters