24 dae gelede
Unie is paraat
NUUT: Ontevrede polisiebeamptes het hulle eie unie gestig.  ~ Foto ter illustrasie: Netwerk24

MAAK regverdige bevorderings in die polisie en stop die daaglikse slagting van lede.

Dis hoofsaaklik waarvoor die South African Police and Allied Workers Union (Sapawu), ’n nuwe unie, vir polisielede gaan veg.

Die unie is gebore uit die ontevredenheid van honderde polisielede van reg oor Suid-Afrika.

Van die ontevrede lede het in Maart vanjaar na die parlement gemarch. Hulle wou ’n griefskrif aan die nasionale kommissaris van polisie, genl. Khehla Sitole, of die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, oorhandig.

Nie een van die hoëkoppe was egter beskikbaar nie.

Die memorandum is toe aan Francois Beukman, voorsitter van die parlementêre komitee oor polisie, oorhandig.

Niks het hiervan gekom nie, sê Bonga Makuliwe, president van Sapawu.

Makuliwe sê deel van hulle mandaat is om die onregverdigheid met bevorderings in die polisie aan te spreek.

“Jy kry mense met ’n meestersgraad op konstabelvlak en ’n kolonel met ’n matrieksertifikaat.

“Dan is daar mense wat 15 jaar in dieselfde rang bly sit, terwyl (lede van) een­hede soos die taktiese-reaksie-span binne twee jaar bevorder word.

“Dit beteken ander word oor die hoof gesien.”

Hy sê daar is ook min wat die bestaande unies vir polisielede doen om aanvalle op lede te verminder.

Sapawu is in Maart gestig, maar eers dié week suksesvol geregistreer.

“Sapawu is ’n unie vir die polisie wat uit die polisie bestaan.

“Wie kan beter as ons vir ons veg?”

Die unie het ook sy deure vir beamptes van die departement van korrektiewe dienste en verkeersdepartemente geopen.

Popcru en Sapu het nie teen druktyd op Son se navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters