3 maande gelede
Uitsig troebel met drie lyke ná drie stil weke
dood: Twee nefies, Shelton Phillips (24) en Anwill Pool (25), is vroeg Sondagoggend in Uitsig doodgeskiet.FOTO VERSKAF  ~ 

DRIE mans is Sondag in Uitsig afgemaai.

Twee nefies, Shelton Phillips (24) en Anwill Pool (25), is reeds in die vroeë oggendure in Aalwyn-laan koelbloedig doodgeskiet.

Volgens die familie van die twee jong mans was hulle nie gangsters nie.

In die ander voorval is ’n man, net bekend as Keith (23), Sondagmiddag helderoordag in Erica-weg doodgeskiet.

Die voorval het omstreeks 12:15 plaasgevind. Keith is in sy rug en kop geskiet en hy is op die toneel dood.

Volgens past. Adam Alexander, ’n gemeenskapsleier in Uitsig, het die gemeenskap die polisie gister in Erica-weg met klippe bestook op die toneel waar die 23-jarige doodgeskiet is.

Alexander sê: “Ons het met die minister van gemeenskapspolisiëring oor die skietery gepraat.

“Dit is onaanvaarbaar dat die gemeenskap opstaan teen die polisielede wat hulle moet beskerm.

Opgevlam

“Hoe moet die polisie hul werk doen as die gemeenskap teen hulle draai?”

Volgens Dawie van Wyk, voorsitter van die Ravens­mead-polisiëringsforum, is hulle bekommerd oor die skietery wat weer opgevlam het. ’n Bekommerde Van Wyk sê: “Die laaste moord was drie weke gelede en daarna was dit stil.

“Ons benodig die hulp van die gemeenskap om saam met die polisie te werk.

“Die polisie doen goeie werk, maar hulle kan nie alleen die geweld stop nie.”

Volgens Van Wyk gaan hulle ’n dringende vergadering met die polisie hou om die geweld aan te pak wat weer opgevlam het.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is hulle tans besig om alle leidrade op te volg, maar niemand is nog gearresteer nie.

Enige iemand met inligting oor die skietvoorvalle kan die tolvrye Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, skakel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters