2 maande gelede
Uitsig is bleek
GEEN ONDERRIG: Daar was gister nie onnies of ’n skoolhoof vir die leerders van die Hoërskool Uitzig nie.Foto’s: BASIL AFRIKA  ~ 

LEERDERS van die verflenterde Hoërskool Uitzig het gister voor dooiemansdeur aangekom met g’n onnie of skoolhoof in sig nie.

Meer as 100 leerders het opgedaag en moes hoor die departement het die sleutels afgevat en die skool toegesluit.

Die skool is nou reeds vier jaar in ’n regs­geding met die onderwysdepartement, wat dit wil sluit omdat dit te vervalle en onveilig is vir leerders.

Van die ouers en lede van die skoolbeheerliggaam skop egter vas nadat hulle appèl in Desember in die hooggeregshof onsuksesvol was.

Hulle het hulle nou tot die appèlhof in Bloemfontein gewend.

Volgens die voormalige Cosatu-man Tony Ehrenreich mag die onderwys­departement nie ’n skool sluit voordat die appèlhof die saak aangehoor het nie.

GESLUIT: Die opsigter gaan die slot aan die skoolhek van die Hoërskool Uitzig na. Die skool is deur die onderwysdepartement toegemaak.

Ehrenreich beweer: “Die departement wil die kinders moedeloos maak sodat hulle na ’n ander skool gaan. Maar die ander skole is klaar oorvol.”

Juanita Roberts (36), ’n bekommerde ouer, sê: “Hulle kan vir ons ’n skool hier bou.

“Hier in Uitsig is niks anders vir die kinders om te doen as om gangsters te word nie.”

Ashlen Smith, wat vanjaar in gr. 12 is, het teleurgesteld gesê sy het so uitgesien na haar matriekjaar.

Jack Claassen, voorsitter van die skoolbeheerliggaam, wou weet waarheen die kinders nou moet gaan.

“Die departement het die skool se sleutel afgevat en die skool gesluit sonder om die ouers voor die tyd in te lig.”

Die skool het laas jaar net 13 matrieks gehad – net 2 van hulle het geslaag.

Volgens Sharon Koeberg het die skool 23 nuwe gr. 8’s wat geregistreer het.

Jessica Shelver, woordvoerder van die onderwys­departement, sê die Wes-Kaapse hooggeregshof het die minister se besluit goedgekeur om die skool te sluit.

Sy sê die skoolbeheerliggaam se appèl hierteen het misluk en die departement vertrou dat enige ander hof dieselfde besluit sal neem.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters