3 dae gelede
Tyres dalk lelik vir ’n pop gevat
POP! Dié kontrepsie is gevind op die R300, waar dit blykbaar bedoel is om ’n motor tot stilstand te dwing.  ~ Foto Verskaf

“ONS is regtig teleurgesteld in die Stad Kaapstad oor hy nie ons motoriste kan veilig hou nie.”

Dis die uitroepe van talle ­gemeenskapsveiligheids­organisasies wat bors skoonmaak oor die veiligheid op die R300-deurpad.

Hulle voeg by dat hulle moeg is om op oplossings te wag en het daarom besluit om gevaarlike paaie persoonlik te begin ­patrolleer.

Dit kom nadat die organisasies glo al jare die Stad Kaapstad smeek om ligte op die R300 tot by Mitchells Plain aan te bring.

’n Lid wat uit vrees van viktimisasie verkies het om ­anoniem te bly, sê die pad is veronderstel om op die Stad se prioriteitslys te wees omdat dit al jare ’n hotspot vir misdaad is.

“Ons sien hoe mense hier gekaap word, hoe hulle hier ­beroof en vermoor word en steeds is daar nie ligte nie.

“Hoeveel keer het ons oor die kameras gevra en hoe die ­kameras gemonitor word? ­Hoeveel keer het ons ook oor die ligte gevra?

“Ons main concern is die motoriste se veiligheid en dis ­hoekom ons besluit het om self uit te gaan om die paaie te patrolleer.”

Die lid praat ook oor ’n ­kontrepsie met skerp punte wat onlangs op die pad gevind is en wat duidelik bedoel is om ’n motor se bande te beskadig en die kar tot stilstand te dwing.

Die lid vervolg: “Die mense word met bakstene en klippe bestook. Dis onlangs dat ons die kontrepsie in die pad gevind het.

Dis gemaak uit spykers, ­kettings, hekspykers en metaal wat beslis ’n voertuig sal ­beskadig. Dinge op die pad raak net al hoe gevaarliker.”

Ruth Solomon, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad, sê daar was nog nooit vantevore so ’n ­kontrepsie op die R300 gevind of by die Stad aangemeld nie.

Solomon sê: “Die Stad se metropolisie het personeel wat 24/7 op snelweë aan diens is.

“Beamptes help motoriste wanneer hul voertuie daar ­stilstaan en wag ook saam met hulle totdat hulp opdaag.

“Hulle verwyder ook rommel of voorwerpe op die paaie as hulle dit tydens hulle patrollies raakloop.”

Solomon voeg by dat daar veral in spitstyd patrollies op die R300 en Jakes Gerwel­-rylaan plaasvind.

“Motoriste word versoek om die Stad se nood-inbelsentrum by 021 480 7700 te skakel in die geval van nood.”

Zoraya du Plessis, ’n gemeenskapsaktivis, sê: “As die Stad regtig so besig is op die paaie, dan sal daar nie so baie van dié voorvalle plaasvind nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters