Verlede jaar
Twee vroue gewond in skietery tussen bendes
 ~ 

NOG twee vroue is in die voortslepende bendegeweld in Lavender Hill gewond.

Een van die vroue (20) is in die been en maag gewond, terwyl die ander vrou (41) in die kop gewond is.

Albei vroue is na die hospitaal geneem en is in ’n ernstige toestand.

Die drive-by shooting het Dinsdag om en by 22:15 in Urfieldweg gebeur.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die twee vroue buite in die jaart gestaan toe hulle in die bendes se kruisvuur beland het.

’n Motor het verby die huis gery en die insittendes het op die twee vroue losgebrand.

Dit kom kort op die hakke van ’n voorval waarin nog twee vroue verlede week in ’n drive-by shooting in Lavender Hill gewond is.

Een van die vroue, ’n ma van vier kinders, is ernstig gewond en nog ’n jong meisie is in haar been gewond.

’n Leerder van die Hoërskool Lavender Hill, Courtney Jackson (16), is ook onlangs in bendegeweld doodgeskiet.

Hy het in die bendes se spervuur beland en is in die hospitaal dood.

Volgens Gavin Walbrugh van die polisiëringsforum in Steenberg is hulle gekant teen die skietery. Hulle soek antwoorde hoe om dié dinge stop te sit.

Volgens Rwexana is die niemand nog vir die skietery gearresteer nie en word ’n saak van poging tot moord ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters