13 dae gelede
Twee storm weg ná moord in huis
DOODGESKIET: Jason “Humpty” Lawrence is die jongste victim van die geweld wat tans in Lavender Hill heers.  ~ Foto Verskaf

DIE bendegeweld in Lavender Hill het die lewe van nog ’n onskuldige man geëis.

Jason “Humpty” Law­rence is Dinsdag in sy huis doodgeskiet nadat twee mans daar ingestorm het.

Die voorval het die middag by Rooshof gebeur.

Die 31-jarige Law­rence is noodlottig gewond.

Volgens inwoners van Lavender Hill was Law­rence nie ’n gangster of by bendes betrokke nie.

Volgens kol. Andrè Traut, ’n woordvoerder van die polisie, het die voorval om 12:06 in Roosweg gebeur.

Traut sê: “ ’n Wit voertuig het by die man se huis gestop en twee verdagtes het ingegaan.

“ ’n Stryery het tussen die man en die verdagtes ontstaan. Tydens die stryery het skote afgegaan en die 31-jarige man is noodlottig gewond.

“Die verdagtes het daarna met die voertuig van die toneel weggejaag.”

Dié voorval volg op die hakke van ’n skietery Maandagaand in Cafda. ’n Man is gewond.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is ’n saak van poging tot moord geopen.

Rwexana sê: “Die bendeskietery het in Blagdenstraat, Retreat, voorgekom. Die 23-jarige man is gewond en na die hospitaal geneem.

“Die polisie se speurders is besig om leidrade op te volg.”

Verlede week is ’n vermeende gangster in Lavender Hill afgemaai. Hy is meer as 10 keer geskiet en is op die toneel dood.

Die voorval het by Wicht Court gebeur – dieselfde court waar drie mense op Nuwejaarsdag doodgeskiet is.

HOTSPOT: Daar word kopgekrap oor hoekom Lavender Hill nou weer soveel skietvoorvalle en moorde oplewer. Foto: Jonathan Lestrade

Gavin Wallburg van die Steenberg-gemeenskapspolisiëringsforum het vroeër gesê: “Ons veroordeel ten sterkste die bendeskietery, wat nou weer opvlam.

“Ons is in die middel van ’n pandemie en nou moet die inwoners nog met die bendeskietery ook opgeskeep sit.

Hoop

“Ons weet nog nie wat die rede is dat die bendegeweld weer opvlam nie. Ons kan net hoop en bid dat die skietery stop.”

Niemand is nog vir die moorde gearresteer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters