8 dae gelede
Twee kla oor hul vuurwa
KYK HIER: Doughlas Kamfer staan by die geraamte van die kar waarin hy skaars gery het.  ~ Peter Abrahams

PAARL. – ’n Sakeman, sy seun en sy kleinseun (9) het die dood vrygespring toe hul pas gekoopte voertuig ná skaars ’n uur in hul besit aan die brand geslaan het.

Ironies genoeg het die verkoper nogal nadat die transaksie beklink is vir die nuwe kar-eienaars gebid dat hulle veilig by hul bestemming uitkom.

Doughlas Kamfer (52) en Renaldo Kermis, sy seun, het regtig gedog hul transport-issues is iets van die verlede toe hulle Woensdag die Golf 4 in Bellville gaan haal.

Kamfer verduidelik: “Ons het onlangs ’n nuwe besigheidskontrak gekry en moet op baie plekke wees. Die vervoer was ’n uitdaging wat ons gou moes fix.

“Toe ons die kar vir R20 000 op Facebook sien, het ons dadelik vir dit gegaan.”

Kamfer sê die verkoper, Vincent Voegt van Bonteheuwel, het voorgestel dat hulle die transaksie by die huis doen.

“Maar omdat ons nie vervoer gehad het nie, het ek en hy (Voegt) besluit om mekaar in Bellville te kry. Ons het ’n taxi tot daar gevat.”

Volgens Kamfer het hulle in die kar geklim en na ’n bank in N1 City gegaan. Daar het hulle ook die transaksie beklink.

“Ons het Voegt daar gelos, want hy wou nie ’n lift saam met ons vat nie. Hy’t gesê sy broer sal hom kom haal.

“Voordat ons weg is, het hy nog vir ons gebid dat ons veilig by ons bestemming moet uitkom.”

Die sakemanne se vreugde was baie, báie kortstondig.

“Toe ons wegtrek van die mall af, wou die kar nie in eerste rat gaan nie. Maar ons was nie rêrig geworry nie, want ons plan was maar om dit op te fix.”

Aftrek

Maar toe die al die liggies op die dashboard aangaan, het die bekommernis ingeskop. Die mans het toe by die Engen-garage afgetrek en Voegt gekontak.

“Hy het nie ons oproepe beantwoord nie. Ons het toe die kar gestoot en gekickstart en verder gery. Dit was nie eens lank nie, toe sê my kleinseun daar kom dan rook agter by die kar uit.”

Kermis sê toe hulle aftrek, het die vlamme voor die kar uitgeborrel.

“Toe wou die deure nie oop nie. Ons moes dit met geweld oopstamp. Mense het gestop om te help. Drie brandblussers is gebruik, maar dit het niks gehelp nie.”

ONGELUKKIG: Doughlas Kamfer en Renaldo Kermis, sy seun, soek hul geld terug. Foto: Peter Abrahams

Die brandweer het die brand kom blus. “Toe is die hele kar al uitgebrand.”

Kamfer sê hy soek sy geld terug. “Hy (Voegt) het ons op WhatsApp geblok en hy vat nie ons oproepe nie.”

Voegt, wat die kar 10 jaar besit het, sê hy was geskok toe hy van die voorval hoor.

Hy sê: “Ek’t elke dag met die kar gery. Ek het dan saam met hulle in die kar gery. In die advertensie het ek gesê die kar het TLC nodig.”

Voegt sê die pa en seun het hom en sy gesin gedreig, daarom het hy kommunikasie met hulle verbreek.

Hy sê hy het regsadvies ingewin en wag op sy law­yers. “Tot dan gaan ek niks doen nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters