5 dae gelede
Twee gee hoop
GELUKKIG: Die Van Rooi-egpaar vertel bevryding van dwelms verg baie geduld.  ~ 

“DAAR is ’n nuwe begin vir elke verslaafde.”

Só glo die egpaar Nicolene (39) en Solomon (49) van Rooi van Scottsdene wat jare met dwelms soos tik geworstel het.

Nicolene vertel sy is nie vandag spyt oor haar keuses nie en dat haar en haar Solomon se paadjie met dwelms hulle vandag in staat stel om ander te bemoedig.

Solomon vertel hulle sou dit nooit kon maak as hulle nie God as hul Verlosser aangeneem het nie.

“Ek is tans agt jaar skoon en was dit nie vir Nicolene en die Here se hand oor ons lewe nie, weet ek nie waar ek vandag sou gewees het nie.

“Ek en Nicolene het nooit saam dwelms gebruik nie, maar mekaar in ’n tyd ontmoet toe ons altwee met dié dinge besig was.

“Dit was net God se bestiering dat Hy ons op mekaar se pad gesit het om die genesingsproses saam aan te pak,” vertel dié gesinsman.

Solomon en Nicolene het ook drie seuns saam.

Behalwe om hul seuns in te lig oor die euwels van dwelms, doen Nicolene ook motiveringspraatjies in gemeenskappe om verslaafdes met hul genesingsproses te help.

Donkerste

“In 2011 het ek uitgeroep om hulp en in my sondige toestand het die Here my hulp uitgewys en ek word toe by ’n rehabilitasiesentrum ingeboek.

“Dit was die donkerste tyd in my lewe, maar die regte toets het begin toe ek ontslaan word,” vertel sy.

“Ek het vinnig besef ek sal dit nie op my eie kan maak nie.

“’n Paar maande daarna toe neem ek die Here in my lewe aan en ná maande in Sy teenwoordigheid het ’n wil binne my begin groei en die versoeking om moontlik te relapse, het verdwyn.

“Ek het gereed gevoel om die pad met ál sy storms aan te pak.”

Solomon, wat twee jaar ná Nicolene homself by ’n rehabilitasiesentrum ingeboek het, vertel sy pad na bevryding is soortgelyk aan Nicolene s’n.

“Ek het besef as ek ’n lewe met haar wil begin, moet ek nugter keuses maak.

“In Januarie 2013 toe begin my genesingsproses en soos Nicolene sê – dit was nie maklik nie. Die toets begin eers as jy terug in jou spasie by die huis is.

“Die versoekings is veral groot as jy besef nie baie het verander nie – dinge by die huis, in die buurt, jou vriende,” vertel Solomon.

Hy voeg by dat hy in Junie daardie jaar sy Verlosser gevind het.

Nicolene vertel toe sy en Solomon mekaar op die laagste punt van hul lewe ontmoet het, het sy diep binne geweet hul paadjies het vir ’n goeie doel gekruis.

“Ná rehab besef mens hierdie is nie ’n pad wat alleen gestap kan word nie.

“Alhoewel Solomon nog nie daai tyd reg was om die keuses te maak wat ek gemaak het nie, het ek my vertroue in die Here gesit om hom by te bring.

“Inderdaad het Hy dit gedoen.”

Nicolene sê ten spyte van die afdraande en opdraande oor die jare, sou hulle daarsonder as paartjie nie vandag gewees het waar hulle is nie.

Genesing

Nicolene vertel daar is baie van diegene met wie sy destyds gerook het wat telke­male probeer het om oor te begin, maar wat weer in die kloue van tik geval het.

“Om jou vertroue in die Here te plaas en om op Hom te steun, maak nie die ge­nesing en bevrydingsproses makliker of vinniger nie.

“Inteendeel, dit maak dit so intens en jy begin die pad waardeer vir wat dit is– ’n leerkurwe in die lewe.

“Met die Here as Verlosser gaan slaap jy ten minste met die wete dat daar hoop is en jy leer om geduld met jouself te hê.”

Die Van Rooi-egpaar se advies aan verslaafdes is om te bid vir kalmte en elke dag te vat soos dit kom.

“Hou goeie moed. Daar is ’n nuwe begin vir elke verslaafde.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters