Verlede maand
Twee doodgeskiet
Griet Meintjies
HARTSEER: Dorothea en Griet Meintjies op die toneel waar Ricardo Petersen vermoor is.  ~ Ian Baard

DIE polisie van die Strand het ’n moorddossier geopen nadat twee mans Woensdagoggend in die Gustrouw-woonbuurt doodgeskiet is.

Die voorval het op ’n oop stuk veld naby die Mark Arendse-saal in Wilhelmina Schaefferstraat gebeur.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, bevestig lede van die gemeenskap het die twee lyke omstreeks 07:00 gevind.

Albei mans het verskeie skietwonde gehad.

Hoewel hul oorskot eers 07:00 se kant gevind is, sê die mense wat daar naby woon hulle het al teen 04:00 verskeie skote gehoor.

Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.

Familielede van die slagoffers het hulle as Colin Fraai (34) en Ricardo Daniel Petersen (27) uitgeken.

Albei slagoffers se familielede was op die toneel en woon naby die plek waar die moorde gepleeg is.

Verslae

Toe Son die toneel besoek het, was Petersen se familie besig om op die plek te bid waar hulle sy oorskot ontdek het.

Sy ma, Griet Meintjies, sê sy weet nie wat gebeur het nie en sy wil haar nie oor die voorval uitlaat nie.

Dorothea Meintjies, die slagoffer se ouma, sê hulle is verslae oor wat gebeur het.

Shaun Fraai, die ander slagoffer se oudste broer, sê hulle is net so verslae oor wat gebeur het.

Volgens hom het die familie nou binne ’n kort tydjie sewe familielede verloor.

Hy sê sy broer is die tweede een wat so geweld­dadig doodgemaak is.

Hy vertel die mense sê hulle moes gaan na die huis van ’n vrou wat glo drugs verkoop en die moordenaars het sy broer-hulle daar ingewag.

’n Ander familielid wat ook op die toneel was, maar wat anoniem wou bly, sê Colin was nie ’n gangster nie.

Mense in die woonbuurt Broadlands Park sê die bendegeweld het sedert die naweek­ weer begin kop uitsteek.

Inligting

In Wildegansweg, Broadlands Park, is ’n man glo Saterdagaand in sy been gewond.

Mense met inligting word gevra om lt.kol. Franklin Plaatjies by 021 854 9100 of 082 469 3359 te bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters