6 maande gelede
Twee dood, nog gewond toe jongens weer skiet
koeëls vlieg: Dit is in hierdie woonbuurt waar die skietery uitgebreek het. Foto: MURPHY ROBERTS  ~ 

ATLANTIS. – Bloed vloei weer hier en die afgelope naweek was rooi. Twee mense is in afsonderlike voorvalle doodgeskiet.

Verskeie ander is gewond.

’n Polisiewoordvoerder sers. Nicolette Visagie, het bevestig dat ’n man Vrydagaand in Saxonsea dood is toe hy agter die oor geskiet is.

Sy het gesê die motief vir die moord is nog onbekend en die polisie ondersoek ’n klag van moord. Nog geen arrestasies is gemaak nie.

In ’n ander voorval Saterdagmiddag het ’n 16-jarige die dood vrygespring toe hy in Marigoldstraat gestap het. Iemand wat hom ken, het hom genader en net begin skiet.

Die skieter het te voet gevlug en is later deur die polisie aangekeer. Hy verskyn binnekort in die hof op ’n klag van poging tot moord.

Saterdagnag het ’n onskuldige vrou gesterf toe jongens wild begin losbrand het op inwoners wat gekuier het.

Volgens een van die omstanders wat nie geïdentifiseer wil wees nie, het hulle lekker gekuier toe die jongens­ op mense oorkant die pad geskiet het. “Die een skieter het toe na ons gedraai en begin skiet.

“Theresa Golliath (53) wat langs my gestaan het, het begin struikel. Ek het nog gedog dis oor die voggies, maar sy het toe inmekaar gesak.

“Ek het haar probeer regop kry, maar het gesien daar is bloed op haar rok.

“Sy het toe aan my gesê sy is raak geskiet. Dit was haar laaste woorde, want toe sterf sy in my arms.”

Sy vertel verder dat nog ’n man ook twee keer deur die skieters getref is. Hy is in die hospitaal.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is niemand nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters