13 dae gelede
Tronkvoël kom net nie uit 'hok'
PREEK VIR INMATES: Adrian Meyer hou hier kerk vir sy medegevangenes.  ~ Foto Verskaf

’N VEROORDEELDE inbreker wat meer as die helfte van sy vonnis uitgedien het, wil weet wat hy nóg moet doen om vir parool in ag geneem te word.

Adrian Meyer (38) van Macassar is in 2008 in hegtenis geneem vir drie sake van huisbraak en diefstal. In 2010 is hy vir dié misdade tot 19 jaar gevonnis.

Volgens Meyer se familie is hy ’n chroniese pasiënt wat aan hoë bloeddruk ly.

Hy is al drie keer gehospitaliseer. Een keer met ’n bloedklont in die been, toe TB en ook ’n longinfeksie.

“Hy’t geen tugoortredinge nie en is ’n aktiewe lid van die Warm Bokkeveld-gevangenis,” vertel Meyer se broer, Patrick.

Volgens die familie is hy drie keer parool geweier. Die laaste keer was met die spesiale parool wat aan inmates verleen is om Covid-19 in tronke te bestry.

“Hy het ál die rehabilitasieprogramme voltooi en moes net die sielkundige op 10 Junie sien.”

Maar die sielkundige het eers ’n maand gelede opgedaag. Sy het bevind dat daar ’n risiko is vir Meyer om weer te oortree.

“My broer het sy lewe in die tronk verander. Hy het deur die programme wat hy in die gevangenis doen, reeds klaar ’n werk gekry.

“Hulle laat mense op parool vry wat gewelddadige misdade gepleeg het, maar nie vir hom.

“As hulle sê hy is nog ’n risiko, glo hulle nie in hul eie rehabilitasieprogramme nie.”

Meyer het intussen agter tralies ’n sertifikaat in die teologie verwerf.

Die Meyer-familie sê die Warm Bokkeveld-gevangenis het al als in sy vermoë gedoen om Meyer se parool te laat goedkeur.

“Maar die besluit en probleem lê by die Breederivier-paroolraad,” sê Patrick.

Die departement van korrektiewe dienste het gesê net omdat ’n inmate geskik is vir parool, beteken dit nie dat parool outomaties toegestaan gaan word nie.

“Om op parool of onder korrektiewe toesig geplaas te word, is nie ’n reg waarop ’n oortreder kan aanspraak maak nie, dit moet verdien word.

“Gevangenes word amptelik in kennis gestel as die paroolraad nie parool aanbeveel nie,” verduidelik Mosele Se­hloho, ’n woordvoerder van die departement.

Altesaam 11 059 gevangenes is op die spesiale parool vrygelaat om Covid-19 in die tronke te bestry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters