6 dae gelede
Trips na nêrens: Ander kla ook
Crescenda MeyerFoto’s verskaf  ~ 

DIE vermeende skelm reisagent Crescenda Meyer­ het gister vlugtig in die Wynbergse landdroshof verskyn.

Sy staan tereg op klagte van bedrog wat meer as R1 miljoen beloop.

Meyer is die eienaar van Breakaway Travel.

Sy staan tereg op klagte van bedrog nadat sy na bewering onder andere André en Michelle Ford met hulle oorsese honeymoon trip ingedoen het.

Gister het die speurders van die Milnerton-polisiestasie by die hof opgedaag met twee ander sake wat hulle ook ondersoek.

Die een is ’n saak wat deur die College of Cape Town teen Meyer gemaak is.

’n Werker van die kollege het trips ter waarde van meer as R400 000 deur Meyer geboek.

Die trips het nooit ’n werklikheid geword nie.

Shaun Stober van Milnerton is ook met sowat R400 000 ingeloop.

Son verneem dat ’n ondersoekspan van Johannesburg Meyer in die week kom haal om ’n bedrogsaak daar te gaan bywoon.

Die span is al die laaste paar maande op Meyer se spoor nadat sy glo drie vriende ingedoen het.

Herinneringe

Die vriende moes op ’n trip na Zanzibar gaan en het Meyer R150 000 daarvoor betaal.

Michelle het gister gesê sy is bly Meyer is vas.

“Ek voel baie goed daaroor, maar nie dat sy ons met hierdie slegte herinneringe los nie.”

André voeg by: “Dit voel of sy ons bubble laat bars het noudat ons nie op honeymoon kan gaan nie.

“Ek voel jammer dat sy soveel mense besteel het.”

Meyer se prokureur sal môre ’n aansoek vir borgtog bring.

Familielede van Meyer het staan en huil toe sy ná haar verskyning af gat toe gelei is.

Meyer word intussen in die Pollsmoor-­gevangenis aangehou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters