Verlede maand
Treintrap slagoffer vandag begrawe
simo kwepe, metrorail
Simo Kwepe is twee dae voor sy verjaardag in 'n treintrap dood.  ~ Facebook

Die 17-jarige seun wie twee dae voor sy verjaardag op die treinspoor dood is word vandag begrawe.

“Simo het sy verjaardag koud in die lykshuis deurgebring,” so vertel ‘n gebroke Cora Kwepe, groot tante van Simo Kwepe.

Simo is op Vrydag 12 April, twee dae voor sy verjaardag, dood.

Kwepe vertel een van Simo se neefs het haar die oggend gebel en gesê Simo is op die trein by Soutrivier beseer. Hulle het toe op vervoer gewag om hul daarheen te neem.

“Ek het gewag en gewag, maar niemand het teruggebel nie. Toe ek na 09:00 weer bel is ek net gesê hy is weg.

“Ek is gesê terwyl nooddienspersoneel besig was met hom, het hy ‘n glimlag op sy gesig gehad. Hy het nie eens kans gekry om by die hospitaal te kom nie. Hy is daar by die stasie dood.”

Simo was oppad na die skool toe die trein ophou beweeg het. Dit het algemeen begin word dat treine net tussen stasies gaan staan.

“Simo en ander passassiers het van die gestrande trein gespring. Tydens die commotion het Simo se sak vasgehaak in die trein waaruit hy gespring het. In die tyd wat hy dit probeer los maak het, het die ander trein begin ry en weens die impak van die trein wat verby ry het hy geval en sy kop teen die gestrande trein gestamp,” vertel Kwepe.

Volgens die spoorveiligheidsreguleerder is 343 mense in ‘n treintrap verlede jaar dood.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters